Denkpatrone

En wanneer julle staan en bid, vergeef as julle iets teen iemand het, sodat julle Vader wat in die hemele is, ook julle jul oortredinge mag vergewe. Markus 11:25

Ai, ons politiek blyk ietwat deurmekaar te wees, of wat sê ek alles? Ons sal seker nog lank worstel met sekere paradigmas (denkpatrone) wat ons uit die verlede geërf het.. Hoe gaan ons met die verlede om? Wat is die alternatief?

Ten eerste begin alles by die gesin – hoe gaan pa en ma met mekaar om en hoe word geskille tussen familielede besleg. In die gesin behoort Jesus se woord uit Markus 11:25 daagliks aangewend te word. In ons vol program (4 kinders] poog ons om ten mindste een keer ‘n dag almal saam te wees vir ete, boekevat en om ons dagprogram te finaliseer.  Een keer ’n week het ons gesinsvergadering waar ons lief en leed met mekaar deel en enige frustrasies bespreek. Dit gebeur dat ons vir mekaar direk moet sê: jammer, daar het ek verkeerd opgetree. Die ander persoon behoort ook te antwoord: ek vergewe jou. Dan is dit maklik om ook vir mekaar te sê: ek’s lief vir jou. Hierdie weeklikse tyd is baie waardevol, en ek beskou dit as fundamenteel vir ons optrede in die samelewing – vergifnis in die huwelik en in die gesin.

Ten tweede vermaan die Bybel op menige plekke dat die “oefenterrein” vir vergifnis juis die gemeente is. Daar „bots“ verskillende karakters en dit is nie altyd maklik om mekaar as suster en broer in Christus te aanvaar nie. Op hierdie gebied gaan dit egter nie slegs oor my en my voordeel of seer nie, of dat ek die moed bymekaar moet skraap om met my medebroer te praat nie (wat dalk glad nie bewus daarvan is dat hy iemand seergemaak het nie), maar dit gaan oor die sendingkarakter van die gemeente. Vreemdes bespeur die atmosfeer van spanning positief die van hartlike atmosfeer van liefde onderling. Die hele samewerking tussen lede, of te wel die samespel van die verskillende geestesgawes is van belang wanneer ons Jesus se woorde ter harte neem.

Derdens, wat ons in die gesin en gemeente beoefen, sal soveel makliker wees wanneer ons met werkskollegas of instansies te doen het. Selde word ons ingetrek by die geskille soos onlangs in Parys (Vrystaat) waar ‘n klomp boere aangekla word van moord op ‘n misdadiger. Dis hartseer om te sien dat omtrent enige uitval as ras-gemotiveerde optrede afgemaak word. Om nie eers van die geklaery in sport-kringe te praat nie, waar die media en politici in sommige voorvalle net nie verby die kleur-grens kan kyk nie. Maar veronderstel dat ons tog betrek word – wat sal ons benadering as Christene wees?

Die spasie is te min om in te gaan oor die spanning tussen aan die een kant reg en geregtigheid, en ons Christus-gemotiveerde verantwoordelikheid om te vergewe, aan die ander kant. Let op dat ek geskryf het: die Christus-gemotiveerde vergifnis. Ek wil leer om te vergewe, nie omdat ek maar „net“ rus-en-vrede wil hê nie, ook nie omdat dit ‘n filantropiese of Bybelse plig is nie, maar omdat ek weet: dis ek wat alleen uit genade leef. God het alle reg om my weg te vee, maar nog mag ek lewe. Hoeveel van my leuens, nalatigheid en oortredings het die Here God my nie al vergewe sodat ek nog steeds met ‘n blye, versekerde hart kan sê: God is vír my; wie kan dan téén my wees!? Antwoord: dis net ek self wat teen myself kan wees – as ek die vergifnis van God nie aanvaar nie, en ook nie my medemens wíl vergewe nie. Jesus se woord maak die een faktor van die ander afhanklik. En sy Gees sal my daartoe lei, hoe dit moontlik is dat Christus se vergifnis ook deur en in my vergifnis ‘n werklikheid word. Aan Hom gee ons alle eer en aanbidding.

Pastor Klaus-Eckart Damaske