DIE LYDING VAN JESUS CHRISTUS

Woensdag, 14 Februarie, is Aswoensdag – die begin van lydenstyd. Vir sewe weke dink en oordink ons die pad van die kruis wat Jesus vir ons elkeen geloop het. Ons draai in die rigting van Jerusalem na die hoogtepunt van die Christelike kalender. Jesus sterf vir ons en oorwin die dood met Sy opstanding!

Reeds in 1519 het Martin Luther ’n preek oor die lyding van Christus gepubliseer, waarin hy ’n tipiese tema van sy tyd, naamlik die verinnerliking van die lyding van Christus, behandel het. Volgens hom kan ons, ons Christus se lyding alleenlik dán reg toeëien, wanneer ons erken dat ons geensins aan God se verwagtinge voldoen nie, en dat ons sy toorn en straf waarlik verdien. Slegs vanuit die oogpunt van ons verlorenheid kan ons die diepte van God se liefde in Christus se lyding en dood aan die kruis ontdek.
Luther begin sy preek met ‘n uiteensetting oor menings wat in sy tyd algemeen verspreid was. Hy verwerp die gedagte dat die skuld vir Jesus se lyding by die Jode lê en dat ons met reg kwaad vir hulle mag wees. Verder verwerp hy die idee, dat die lyding van Jesus nie die kern van die evangelie is nie, en dat ons dus net op Goeie Vrydag aandag aan Jesus se lyding moet gee. Ook het hy geen begrip vir die instelling, dat ons medelye met Jesus moet hê, omdat Hy as ‘n onskuldige slagoffer gesterf het. Hy ondersteun die standpunt, dat Jesus se lyding ons met vrees vir die toorn van God moet vervul, omdat die diepte van ons sondigheid deur die lyding van Jesus openbaar word. Ons moet erken dat ons die doringkroon op Jesus se kop geplaas het en ook, dat ons diegene is, wat sy liggaam met ‘n spies deurboor het. Hy stem met Bernard von Clairvaux ooreen, dat ons nie oor Jesus se lyding moet treur nie, maar oor onsself en ons sondige natuur.

Die nut van ons besinning oor Jesus se lyding sien hy daarin, dat dit ons onsself leer ken. Ons moet erken wie en wat ons werklik is – vyande van God, en daarmee saam ook vyande van ons medemens. Díe, dat ons altyd om ons eie as draai, altyd net aan onsself dink, lei uiteindelik daartoe, dat ons eie lewens verwoes word. Dit is dus ons sonde, wat ons met angs vir verskrikking moet vervul, nie die lyding van Jesus nie. Hierdie angs kan ons nie verdryf deur uiterlike kerklike werke te verrig nie. Die angs word net verdryf deur die geloof, dat ons in die dood en lyding van Jesus genade en vergifnis vind. Luther beklemtoon, dat ons hierdie genade en barmhartigheid net ontvang, en nie deur ons bewerkstellig kan word nie.

Luther bly nie by sy besinning oor die lyding van Jesus nie, maar hy beweeg ook verder na Sy opstanding. Goeie Vrydag bly vir hom belangrik, maar ons moet volgens hom na Paassondag aanbeweeg. Die sielestryd oor die eie sonde en skuld is een aspek van die Christelike geloof, maar die wete oor Christus se opstanding uit die dode vervul ons met vreugde en dankbaarheid oor die vryheid van sonde en die hoop van die ewige lewe.
Pastor Kurt Böhmer