Leuse vir die jaar 2017 Kunstenaar: Gertrud Deppe

Leuse vir die jaar 2017 – Kunstenaar: Gertrud Deppe. En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ’n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ’n hart van vlees gee. Esegiël 36:26

Hartoorplanings – Suid Afrika was (is) op die voorpunt van hierdie ongelooflike, bewonderingswaardige mediese wetenskap om hartkwale te oorkom.  Daar is hartroerende verhale van mense wie se lewens dramaties verander het. Desnieteenstaande sal selfs die enkele uitverkorenes wie se lewe met enkele dae of jare verleng word, se hartsingesteldheid min verander (behalwe weens gesondheidsredes) en hulle volg steeds hul’ hartstogtelikheid.

Hoe sal God vir ’n hele nasie hartoorplantings gee?

Jy en ek sou na hartelus verder spekuleer hoeveel sinspeling daar op die woord “hart” gedoen kan word. Deur die profeet verwys God na altwee kante van ons menslike bestaan: die negatiewe – onreinhede, hongersnood, drekgode, walglik, verkeerde weë, gruwels, sleg doen, skaam wees, ens. En die positiewe – terugbring na die beloofde land, my volk wees, vermenigvuldige opbrengs op die veld, geregtigheid, my Naam sal bekend wees, verordeninge onderhou, blydskap, ens.

Die hart verwys na ons menswees wat óf in ’n verkeerde óf ’n regte verhouding teenoor die Here, Jahwe, staan. Wat onsigbaar is, naamlik die sentrum van ons menswees, word telkens ontbloot, met woorde en dade sigbaar gemaak. Net soos Jesus verwys na die goeie boom wat goeie vrugte voortbring, of te wel ’n slegte boom wat slegte vrugte voorbring. Die “hart” bring vrugte voort.

Leuse vir die jaar 2017 Kunstenaar: Gertrud DeppeGertrud Deppe (geb.1940) wat hierdie prent tot die leuse vir 2017 geteken het, weet dat bo-natuurlike ingrype nodig is om “gewone” mense te verander. Ja toegegee, daar’s mense met sterk wilskragte – soos ons waarneem by bv dwelmverslaafdes wat rehabiliteer, of mense wat totaal nuwe gewoontes aanleer. Nogtans voldoen geen mens se deugde aan God se perfekte standaarde nie. So teken sy, hoe God na die sondige mens uitreik, en welliswaar deur, met en in die kruis. Ons sou nog op al die (liturgiese) kleure en hul’ betekenis kon ingaan.

Die kruis tussen hemel en aarde met die sonlig as uitgangspunt, wie se uitgestrekte arms deur alle sfere tot die uithoeke van die kosmos strek, wil jou ook bereik. Al sou my sonde bloedrooi wees, sal ek witter wees as sneeu. Soos die Psalm 51:12 bid: Skep vir my ‘n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my ‘n vaste gees. So antwoord die Here in Esegiël 36:27 ook met: Ek sal my Gees in julle binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen.

Afgesien dat sommige volksgenote in Esegiël se tyd hierdie boodskap nie wou hoor nie, kán mense op hul‘ eie nie hierdie insig bereik nie; God self doen dit. Wat se uitwerking die volkome Godsverhouding het, wys Jesus – as mens tussen mense leef Hy (ons) gevul met goddelike gedagtes, woorde en dade. So stuur God ons saam met sy Seun op pad in die jaar 2017.

Pastor Klaus Damaske