Jaarverslag van die Afrikaanse Vroueaksie vir 2015
Onder die leuse vir die jaar 2015 uit Rom 15:7 – “Neem daarom mekaar aan, soos Christus ook ons aangeneem het, tot heerlikheid van God” het ons ‘n besondere jaar in die Afrikaansegemeente beleef.
‘n Hoogtepunt was sekerlik die Gemeentedag by die Schoemansville Oewerklub, by die Hartebeespoortdam, op 26 April. Ons het die dag saam begin met ‘n Erediens en daarna heerlik saam gekuier om die braaivleisvure en jonk en oud het die pretritte op Michael en Benita se rubberboot geniet. So ‘n dag saam gee ‘n goeie geleentheid om lief en leed met mekaar te deel.
Op 23 Mei het ons saam met al die ander kringe, Gemeentedag geniet.
Die Afrikaansegemeente het vir die dag van hulle Afrikaanse tradisies vergeet, hul Skotse rokkies aangetrek, nuwe Skotse resepte getoets en sommiges het Skotse danspassies geleer.
Een ding is seker, almal het baie pret gehad en ons dank veral die jong klomp wat die stalletjie so mooi versier het en seker gemaak het dat ons in amper al die sport items gewen het.
Op 19 Julie het ons die Afrikaanse lede van St Peters gemeente in Skinnerstraat, uitgenooi na die erediens vir die jaarlikse sopete. Dit is altyd ‘n besondere geleentheid om met mekaar te deel en van mekaar te leer.
Tydens die jaarlikse basaar, op 25 Julie, het die afrikaanse span weer ‘n baie suksesvolle pannekoektafel behartig en meer as 70L pannekoekdeeg is deur ‘n vrolike en puik span bakkers en baksters gebak en verkoop.
Die Afrikaansegemeente het weereens die afgelope jaar, elke tweede maand , ons plek van aanbidding verskuif na die Duitse Ouetehuis. Dit bied die geleentheid vir talle bejaardes om ‘n erediens in Afrikaans by te woon en dit bied die gemeentelede die geleentheid om na die diens saam met die bejaardes oor ‘n koppie tee of koffie en verversings te kuier. Dankie aan Ingrid Lombard, wat ‘n groot rol speel in die beplanning en uitvoering van hierdie diens en wat ons attend maak op behoeftes wat die Ouetehuis het en waar ons as gemeente dalk kan inskakel.
As deel van ons Diakonieprojek, het die Afrikaansegemeente weer ‘n wonderlike Lentefees by die Duitse Ouetehuis aangebied. Dit is altyd ‘n besondere dag en bied die geleentheid om iets spesiaal vir die ouer generasie te doen. Sowat 60 bejaardes het die geleentheid in die saal bygewoon, waartydens die kinders van die gesamentlike kinderkerk vrolike liedjies gesing het.
Die kinders het daarna weer hulle liedjies in die pleegsorgeenheid gesing, terwyl die mense in die saal verder vermaak is deur die goeie stemme van die Böhmer mannekoor en die kok van die Ouetehuis, Heinrich Knöcklein. Na wonderlike klaviermusiek en ‘n geestelike gedagte van Pastor Damaske is koffie en tee geskink en die heerlike koek en soutighede is deur almal geniet. Hartlike dank aan almal wat saam gewerk het om die Lentefees so genotvol te maak. Daar moet nog ‘n besluit in die gemeente geneem word of die oorblywende geld van die Diakoniefonds gebruik sal word om verwarmers vir die pleegsorgeenheid aan te koop.
‘n Besondere ontwikkeling in die Afr gemeente is die ontstaan van die JA (Jong Afrikaans) Vir God groepie. Hierdie groep staan onder die leiding van Charlene Swanepoel, Ralf Wundram, Ralph Wichmann en Ian en Imke Kotze. Hulle fokus daarop om veral die jong volwassenes bymekaar te kry sodat hulle mekaar beter kan leer ken en mekaar kan ondersteun. Hulle het nou al twee besondere aktiwiteite gereël en ons sal in die toekoms ook nou saam werk om veral die jong mense meer in die gemeente te betrek.
Daar is al reeds ‘n paar planne in werking vir die gemeente se afsluitingsbraai op die 6de Desember en ons sien uit na ‘n opwindende dag van pret en plesier om die jaar mee af te sluit.
Ongelukkig het ons die jaar ook afskeid geneem van ons beminde broer, Hugo Düvel en ek wil graag, namens die familie almal bedank wat hulle ondersteun het in hierdie moeilike tyd en almal wat by die gedenkdiens gehelp het deur verversings te bring of tee en koffie te skink.
Ek wil graag my berig afsluit met ‘n paar woorde van dank. Dankie aan ons Hemelse Vader wat ons aan mekaar toevertrou het en wat ons altyd weer krag en leiding gee vir die projekte wat ons aanpak. Dankie vir elke dame in die gemeente, want sonder julle sal ons nie Gemeente kan wees nie.
Dankie aan Benita Damaske, wat so getrou en op haar eie, honderde paaseiers geverf het vir die paasverkope en alweer druk besig is met volgende jaar se paaseiers.
Dankie aan Ria Paul wat nie net sorg dat elke gemeentelid ‘n verjaarsdagkaartjie kry nie, maar ook seker maak dat niemand hulle blommediens vergeet nie. Dankie ook vir al die afkondigings en herinneringe wat per epos of Whattsapp uitgestuur word en natuurlik al die ure se werk wat aan die gemeentebrief en ander administrasie wat vir die gemeente ingesit word. Ons waardeer jou baie.
Weereens dankie aan Ingrid Lombard vir haar harde en getroue diens by die Ouetehuis en vir al haar ondersteuning en saam dink.
Dankie aan Aranka Plath en Zelda Hall wat saam met my op die komitee gedien het. Dit is altyd ‘n voorreg en besonders om saam met julle te werk.
Antje Damaske