Soos pasgebore kindertjies smag na melk, moet julle smag na die suiwer geestelike melk, sodat julle daardeur kan opgroei en die saligheid verkry.
Julle het immers ondervind dat die Here goed is. Kom na Hom toe, die lewende steen, wat deur die mense afgekeur is, maar deur God vir die ereplek uitverkies is. Laat julle as lewende stene opbou tot ‘n geestelike huis, om ‘n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is. 1Petrus 2:2-5 Liewe Vriende in die Here Jesus Christus Die apostel Petrus skilder vir ons ‘n pragtige prentjie van ‘n klein babatjie wat deur sy moeder gevoed word. Vir die baba is dit ‘n oomblik van uiterste geborgenheid, ‘n oomblik van saligheid en vreugde. Niks is vir die baba belangriker as die melk wat hy/sy ontvang nie. Dit sal nie die geleentheid om deur sy moeder gevoed te word met iets anders verruil nie. deur Pastor Kurt Böhmer Dit is ‘n wonderlike prentjie van ons as Christene, as ‘n Christelike gemeente en kerk van dit wat hier in hierdie en in elkeen van ons eredienste gebeur. Ons almal is soos pasgebore babas, nuut gebore in en deur die water van die doop.
En nou is daar niks dringender vir ons as om gevoed te word nie. Ons benodig heilsame, kragtige voedsel, voedsel wat ons in staat stel om in ons geloof en in ons verlossing te groei. In ons eredienste sit ons by die bron en die fontein van dit alles. Daar ontvang ons dit wat ons meer as enigiets anders nodig het. Die erediens is beslis nie net een of ander vermaaklikheids-vertoning wat daarop gemik is om diegene wat dit bywoon, te begeester nie. Dit is die tyd en die plek waar God ons voorsien van die geestelike voeding wat ons nodig het om te groei en versterk te word in ons geloof. Die erediens is die tyd en die plek waar God se reddende Woord verkondig word, en waar die liggaam en die bloed van ons Here Jesus Christus uitgedeel word. Dit is daar waar ons kan smaak dat die Here goed is. Kan u sien hoe Petrus probeer om ons mond te laat water by die gedagte om in die huis van die Here te kom en om op wonderbaarlike manier deur niemand minder nie as God self bedien te word en die beste en voedsaamste voedsel te ontvang – nie net afgeroomde melk nie, nie net ‘n waterige brousel nie, maar die regte ding – ware voedende volroommelk – God se ware Woord en Sy Heilige Sakramente?
En dan sê Petrus: Kom na Hom toe, die lewende steen, wat deur die mense afgekeur is, maar deur God vir die ereplek uitverkies is. Laat julle as lewende stene opbou tot ‘n geestelike huis, om ‘n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is. Dit is nie ons taak om die kerk te bou of aan die gang te hou nie. Dit is ons wat as lewende stene saam in die kerk ingebou word, in ‘n geestelike huis. Dit gebeur elke keer as ons na die lewende Steen toe kom, na ons Here Jesus Christus en daarna hunker om gevoed te word deur sy ware en lewende Woord. Soos Petrus verduidelik, is God die bouer.
Ons kan kerkgeboue met bakstene en hout bou en uitbou. Maar die Drie-enige God alleen bou sy kerk. God die Vader lê die fondament – sy Seun, Jesus Christus, die hoeksteen. Jesus stig self die geestelike huis met sy eie bloed wat aan die kruis uitgestort is. Die Heilige Gees roep en versamel mense wat dood was in sonde, selfs meer dood as hout en klippe, en gee lewe en geloof aan ons; en maak deel van hierdie ewige konstruksie. God is die bouer. Ons is die klippe – lewende stene, maar tog passief saam geplaas na Sy plesier, deur Sy hand en deur Sy belofte. En dit is ‘n konstruksie wat in hierdie wêreld geen einde vind nie.
Deur die krag van sy woord en sy sakramente voeg God elke dag lewende stene by sy kerk. As ‘n kind gedoop word, word ‘n nuwe steen gelê. As ‘n sondaar hom bekeer, word ‘n steen weer terug gesit. Dit is die Here, wat ons versterk en ons opbou, ons wat reeds deel van die gebou is. As ons die woord van die Here hoor en glo, gaan die konstruksiewerk voort. God bou sy kerk. Maar dit is ‘n konstruksie wat eendag voltooi sal wees. In werklikheid is Jesus reeds besig om ‘n plek in sy Vader se huis voor te berei – vir al sy mense; ook vir jou! Daar sal die lewende stene van die kerk vir ewig in die huis van die Here woon. Want hy wat hierdie goeie werk in ons begin het, sal dit end-uit voer en sal dit voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom. (Filippense 1:6)
Pastor Kurt Böhmer