“BID GEDURIG”

1Thessalonisense 5:17)
Liewe Broers en Susters in die Here Jesus Christus, Die vyfde Sondag na Paasfees, Rogate, wil ons uitnooi en aanmoedig om die gesprek met ons hemelse Vader te soek. Die Apostel Paulus gaan in sy eerste brief aan die gemeente in Thessaloniki een stap verder en beveel ons om gedurig te bid, of te wel volgens die ouer vertaling, om te bid sonder ophou. Hoe is dit moontlik? Ons kan tog nie onophoudelik bid nie, ons het tog immers ook nog ander werk om te doen, of nie?

Die kerkvader van die derde eeu na Christus, Origenes, het dit so probeer verklaar: Die persoon wat bid sonder ophou, is die ene, wat sy werk met sy gebed verbind en sy gebed met sy werk. Hy het ‘n goeie punt beet. Dit is vir ons onmoontlik om te bid sonder ophou, tensy ons gebed die vorm van ons deur  werke aanneem en ons werke die vorm van ons gebed. Dit is ‘n onmoontlike taak om onophoudelik te bid. Probeer net om voortdurend 10 minute lank te bid. Is dit nie so, dat ons gedagtes maar rondspring soos springmielies op ‘n warm stoofplaat en voordat ons onsself kan kry het die gebed geëindig en hardloop ek maar net agter my gedagtes aan?

Paulus bedoel sekerlik nie, dat ons niks anders mag doen as net bid nie – maar eerder, dat ons hele lewe, al ons doen en late, gekenmerk en gevorm moet wees daardeur dat ons die Here ons God as Heerser oor ons lewens beskou en aan Hom alle verskillende aspekte daarvan opdra in gebed. Dit beteken dat daar geen fasette in ons lewens kan wees waarvan ons sê: dit het niks met die Here te doen nie.

Aan die ander kant kan ons nie wegkom van die heel eenvoudige vasstelling dat Paulus hier heel konkreet praat van onophoudelike gebed nie. Net soos wat ons ononderbroke dink – behalwe dalk in ons diepste slaap fases – so kan juis ons denke, die gedagtes wat deur ons kop beweeg, die vorm aanneem van ‘n gesprek met die Here. In stede van gesprekke “met onsself” te voer, kan ons tog met die Here praat oor dit wat ons elke oomblik van ons lewens besig hou. Dit beteken: ek oorweeg nie sommer “op my eie” nie, wat my te doen staan in ‘n sekere situasie nie – maar ek tree in ‘n gesprek met die Here en vra om sy leiding, sy wysheid, ens. Dit sluit natuurlik ook in, dat ek hoor, wat die Woord van die Here vir my sê.

As ons by voorbeeld al ons tussen-menslike kwessies so met die Here bespreek – sal dit nie ‘n groot invloed op ons optrede en ons innerlike houding teenoor mekaar beïnvloed nie? Bid gedurig, bid sonder ophou – dit is ‘n groot en spannende opdrag wat aan ons gegee word. Die beste daaraan is, dat ons mag weet, dat die Here Jesus Christus self ook ons voorspraak by die Vader is, dat Hy gedurig en sonder ophou ons in sy groot gebede aan ons hemelse Vader opdra. Hy bid vir elkeen van ons – altyd. Daar is nooit ‘n tyd, waarin Hy ons nie met sy gebedshande omvou nie.

Pastor Kurt Böhmer