Toe dit bekend geword het dat die blaasorkesfees by die Duitse Skool Pretoria sal plaasvind, het bedenkinge by my posgevat jeens die geskiktheid van die vergaderplek.
Ek glo dit was ook die geval by baie ander. Ons is meegedeel dat ons onder ‘n tipe dak (beskutting) sal moet sit, naby die verhoog, Die kante sal egter oop wees. Ag nee! ‘n Bron van kommer! Sal ons seniors die koue wind wat deur die openinge gaan waai, ooit kan trotseer? Ons seer en teer liggame is mos so gevoelig vir die koue! Ons is egter gerusgestel. Trek net warm aan en bring komberse. Julle sal “survive”. Heel bemoedigend was die woorde van Gunther Schwarz wat ons tydens die byeenkoms van die seniors daaraan herinner het dat met ingang 21 Junie die dae langer is.
So het ek en my vrou Sondagoggend vroeg vertrek op pad na die feesterrein. Heel voorbereid vir dit wat op ons wag. Toegerus met warm komberse. Naby Irene was die lugtemperatuur 11c. Sjoe. En nou? Maar ons kommer was egter ongegrond. ‘n Wolkelose hemel, en ‘n helder son, effens yl, het ons by die vergaderplek begroet. God was volkome in beheer. Onwillekeurig het ek aan die woorde van Martin Luther gedink. “Dat die voëls van kommer en sorge oor ons koppe vlieg – nou ja, dááraan kan ons niks doen nie. Maar ons kán keer dat hulle kom nes maak in ons hare.”
Ja, liewe leser, ons kan net die Here dank vir ‘n pragtige dag. In die toekoms toesien, dat die voëls van kommer en sorge nie in ons hare nes maak nie! Die verrigtinge het stiptelik om 09:00 begin. Die melodieuse klokkespel het ons almal in die regte stemming van lofprysing geplaas. ‘n Geskatte 250 blasers, bestaande uit hoofsaaklik spelers van koperblaasinstrumente maar ook klarinet- en dwarsfluitspelers, het voor onder die afdak versamel. Onder die bekwame leiding van die nuutverkose dirigent Heinz Niebuhr uit Kirchdorf, bygestaan deur die onderleier Roland Meyer uit Lüneburg, het die fees ‘n aanvang geneem.
Nadat 7 musiekstukke gespeel is, waar ons genooi is om die Here te loof vir gespaarde lewens en beskerming tydens die vorige nag onder andere, het die Erediens begin, met die wete dat ons voor die teenwoordige God vergader is. Aan Hom kom al die lof toe. Pastor Martin Paul het die diens gelei en as prediker opgetree. As teks vir die preek het die tema van die feesdag gedien: “Ek sal die Here altyd weer prys, sy lof sal altyd op my lippe wees.” (Ps. 34,2) In hierdie Psalm hef die psalmis Dawid ‘n loflied aan tot eer van die Here.
Die rede vir sy lofprysing spruit voort uit die feit dat die Here hom geantwoord het toe hy Hom aangeroep het, en hom uit sy benoudheid gered het. (V. 5 en 7) Dawid lê veral klem op wat die Here vir hom gedoen het. Pastor Paul, met verwysing na Michelangelo se Pieta (om bejammerd te wees) het die moeder Maria as ‘n bejammerenswaardige figuur geskets wat eenvoudig nie begryp het wat die lyding en sterfte van Christus inhou nie, asook Sy opstanding. Ook die Apostels het die gebeure op Paassondag nie werklik begryp nie, en was inderdaad ook ten aanvang bejammerenswaardige figure.
Maar, Christus het opgestaan, ja, werklik opgestaan. Mag dit nie gebeur dat ons ‘n bejammerenswaardige geloof (jämmerlicher Glaube) vertroetel nie en maak asof die kruisiging en opstanding van ons Here in ons daaglikse doen en late ons onaangeroerd laat. Feit is, Christus het opgestaan, en deur oë en ore van lofwaardige geloof erken ons, ons opgestane Heer en Heiland. Ons gewaar sy teenwoordigheid elke week in die erediens, waartydens Hy tot ons kom in sy Woord en Sakrament, en ons deel kan hê aan die vrugte van sy verlossingsdaad aan die kruis nl vergifnis van sondes, genade, barmhartigheid en vrede.
Die Here het inderdaad baie vir ons gedoen aan die kruis! As ons dit alles mooi begryp, dan kan ons nie nalaat om die Here altyd weer te prys, met Sy lof altyd op ons lippe. Dan verander ons van ‘n bejammerenswaardige figuur, na ‘n lofwaardige een. Na die diens is die tema van die dag deur die blasers aan hand van vier gepaste musiekstukke pragtig ingekleur en opgehelder. Die klem het telkens op lofprysing geval.. Na ‘n heerlike vingerete, is die program voortgesit.