Christus alleen! Solus Christus!

Die tyd het aangebreek, liewe leser. Watter tyd?

Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun (Jesus Christus) … Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand. Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel. (Hebr 1:1+3)

Waar ook al híérdie Christus verkondig en menseharte verander – daar is Hervorming. Op 31 Oktober 1517 gedenk Christene wêreldwyd die herlewing 500 jaar gelede in Europa. Deur die hele jaar al vier ons herhaaldelik die gebeure. ’n Mens raak skoon uit asem as jy al die feesvieringe sou bywoon, soveel so dat die eintlike boodskap dreig om by ons verby te gaan.

In ons Afr Bybelstudie het ons die vier pilare van die Hervorming onder oënskou geneem (dit kan skriftelik by my aangevra word). Vir hierdie een, solus Christus, het ons drie volle sessies nodig gehad om te verduidelik. Al die ander – alleen die Skrif, geloof, genade – is met hierdie gedagte verweef: alleen Christus.

Almal en alles praat van Jesus – Hindus, Jode, ateïste, politici, advertensies, noem maar op. Maar sodra ons kom by die woordjie „alleen“ dan skei die paaie. Ook alle Christelike denominasies praat van Christus, maar die Lutherse inslag kry sy kleur juis deur te verduidelik wátter Christus dit is wat die Bybel verkondig. Algemeen hoor ons van Jesus bv as ’n wyse mens, as die voorbeeld van morele standaarde, die gewer van „bling“, die liefdevolle humanis, die sielkundige, as die mistieke innerlike ervaring, die oulike vriend, ens. Daarom is dit van kardinale belang dat ons fyngevoellig raak vir waarna ons luister en waarvan ons getuig, want ’n valse Christus lei na teleurstelling, bespotting en uiteindelike verderf. Daarteenoor bring die Evangelie van die bybelse Christus ons na ware bevryding, vaste sekerheid, vrolike diensbaarheid en uiteindelike volmaakte saligheid.

Ek dink dikwels daaraan hoe ek vir sogenaamde moderne, verligte mense wat met „alleen Christus“ nie veel kan doen nie, die Evangelie kan vertaal. Is die „suksesvolle mens“ nie maar ook vasgevang in die wiel van prestasiegedrewe verwagting, die onvermoë om innerlike en uiterlike gebalanseerde lewensstyl te handhaaf of om tog maar in gleuf van denke te verval: net die sterkste oorleef!?

Martin Luther se vroeë opvoedingsverhaal kan vir ons baie leer hoe om deur ’n sistematies-prestasiegedrewe lewensverwagting te worstel heen na ’n ontspanne, genadegedrewe, vervulde lewe. Maar dan moet jy bietjie tyd maak vir selfondersoek, vir die ryk tradisie van die kerk en natuurlik vir Bybelstudie. Want dit is die WOORD wat vir ons Christus openbaar. Dit is HY alleen wat ons kan transformeer, herskep en bevry om met die regte perspektief weer te kyk na myself, my omgewing, my samelewing, beroep en toekomsverwagting.

Ek wens vir ons almal HERVORMING in die ware sin van die woord; dan sal ook ons gesinne, gemeente en Lutherse kerk ’n ligpunt vir die wêreld wees.

Word ek gevra wat my so bly maak, sal ek die Naam van Jesus noem. Dis sy genade wat my vry maak. Ja, daarin sal ek my beroem. Diep neergeboë, hoog verblyd, aanbid ek die barmhartigheid!

Ek steun op Gods barmhartighede, en niemand sal dit my ooit roof. Dit is die krag van my gebede, die fondament van my geloof, my raad en troos in alle nood, my hoop en lig ook in die dood. (Laudate 333, Philipp Friedrich Hille, 1699-1769)

Pastor Klaus-Eckart Damaske