Die regte Christusfees

“Met Kersfees vier en verkondig ons dat ‘die Woord vlees geword en onder ons kom woon het’ (Joh 1:14). Advent is nie dieselfde as Kersfees nie, maar is ’n tyd van verwagting en voorbereiding op die koms van Christus. Die woord Advent beteken ook letterlik ‘koms’.

As Christene vier ons nie die Adventstyd asof Christus nog nie gebore is nie, ons vier dit met die wete dat Christus gekruisig is en opgestaan het. Tog ervaar, vier en verkondig ons in dié tyd iets van die hoop waarmee Israel in donker en uitsiglose tye op die koms van die Messias gewag het. Op hierdie wyse is Advent ’n tyd vir terugkyk na Israel se verwagting van die Messias, én ook ’n vooruit kyk na die wederkoms as finale gestalte van Christus se triomf oor die magte van sonde en dood wat met die gebeure van Paassondag ’n werklikheid geword het. Advent dra dus die betekenis van swangerskap en afwagting. Ons verlang na die geboorte (lees ook: wederkoms) van die Seun. Ons hele lewe word op die een of ander manier spandeer in afwagting – gebeure van hoop, verwagting en onvoltooide verlossing.

Waar ‘om te wag’ in ons gejaagde, moderne samelewing geassosieer word met ’n vermorsing, wil Advent ons leer om geduldig te wag op die Here. Om te wag word ’n kuns waarin geleer word dat (soos in die geval van swangerskap) niks van waarde tereg kan kom sonder ’n tyd van stille ontwikkeling nie. Daarom dat simbole soos om te bak, fermentering, rypwording alles dui op ’n proses van wat besig is om te word. So berei ons onsself voor vir die viering van Kersfees én Christus se wederkoms.”

Ons leef ook in die verwagting dat die Verlosser weer gaan kom en daarom is ons gebed: “Maranata!” (Kom tog gou, Here!). Ons viering hiervan staan dus nie in die teken van boetedoening nie, maar van vreugde en afwagting. Ons vier fees in ’n gees van voorbereiding en geduld. Dit maak van Kersfees self ’n ryker ervaring.

Advent is dus ’n tyd van herinnering en verwagting. Die eerste week se tema is verwagting. Die tweede week se tema is verkondiging. Die derde week se tema is vreugde. Die vierde week se tema is reinheid.

Die kerklike jaar begin met die eerste Sondag van Advent. In Suid-Afrika gaan die betekenis van Advent maklik verlore tussen al die afsluitingsfunksies, gejaag van die vakansie en voorbereidings vir die feestyd. Tog bied die Adventstyd ons die geleentheid om van die haastige kommersialisme voor Kersfees te ontsnap en ons voor te berei op die wonder en misterie van Christus se menswording.

Daar is vier Adventsondae voor Kersfees, waartydens ons vanuit verskillende perspektiewe met verwagting op die koms van Christus voorberei. Advent strek dus gewoonlik oor so bietjie meer as vier weke. Die tweeledige fokus van Advent word ook gereflekteer in die vier Adventsondae. Waar die Adventtyd begin met ’n fokus op Christus se tweede koms, verskuif dit stelselmatig na sy geboorte (wat dan uitloop op Kersdagvieringe). In werklikheid word ons reeds tydens die laaste drie Sondae van die vorige Koninkrykstyd (wat oorgaan in Adventtyd) reeds voorberei vir ’n fokus op Christus se wederkoms met temas wat reeds dan al daarop konsentreer.

Die eerste Sondag van Advent is dan baie spesifiek tematies gekoppel aan die wederkoms. Tydens die tweede en derde Sondae in Advent kom daar reeds ’n verskuiwing, met konsentrasie op die Messiaanse boodskap van Johannes die Doper. Die vierde Sondag antisipeer dan baie spesifiek die geboorte van Christus.