Die Vader wat in die verborgene sien, sal jou vergeld

Tydens ’n midagete in die kantien van ’n groot firma drom mense rondom die opskepbakke. Toe Jan klaar geskep het, gaan sit hy by ’n paar gawe dames wat net voor hom opgeskep het.

Na ’n glimlaggroet begin hulle om hom daarop attent te maak dat hy veels te veel van dáardie aartappels opgeskep het wat blykbaar sleg is vir die gesondheid; en hierdie Coke sal sy beenstruktuur verswak en hulle wonder of die eetgery skoon gewas is.

Nee wat, dink Jan, hierdie dames is net ’n klomp kla-kouse en hy verskuif eerder na sy kollegas wat saam met hom in die kantoor werk. Hulle begin toe onderlings grappies te vertel wat enige beskaafde mens laat bloos. Dis ook nie sy plek hier nie. En nadat hy nagereg opgeskep het, gaan sit hy liewer eenkant alleen – maar dis ook nie die rede waarom hy juis kantien toe gekom het nie; dan kon hy net sowel ’n tuisgemaakte broodjie in die buitelug geniet het.

Restaurant-christene noem ek hulle wat graag slegs die goeie wil geniet – dis waarom hulle kerk toe kom om hul’self te geniet. En sodra die atmosfeer ietwat onaangenaam raak, skuif hulle aan, en aan, en op die ou einde sit hulle liewers alleen Sondae by die huis, gaan stap met die troeteldiere of „geniet“ die sport op TV. Elkeen is geregtig op vryetydsbesteding en alles is vrywillig, is dit nie? Die eenkant is inderdaad dat ons almal in die gemeente meer bedag wil wees dat ons mense welkom wil laat voel.

Maar die anderkant van die muntstuk is dat gewone Christene se insigte daarheen behoort te groei wat dissipelskap beteken. Baie skrywers van die Nuwe Testament stel hul’self voor as diensknegte of slawe van ons Here Jesus Christus. Dis positief bedoel: vroeër was ons uitverkoop aan die sonde en ons was beheers deur ons eie begeertes; nou egter het Christus ons vrygekoop. Ons het ’n nuwe baas – en dis die goeie Heer: Hy gee vir ons sy Gees sodat ons as Christus se diensknegte sal dink en optree soos Hy – vanselfsprekend dien ons mekaar soos Christus ons gedien het.

Diensbaarheid word by Christene 2de natuur … en die “restaurant mentaliteit” verdwyn. En tog sluip ydele neid soms in ons gedagtes: waarom sê niemand vir my „dankie“ nie? Wat is daar vir my as ek tyd of geld opoffer sonder om iets terug te kry? Wanneer gaan die Here my vergoed? Jesus se uitspraak uit Luk 16:10 (Sondag Septuagesimae se teks vir die preek) mik juis teen sulke gedagtes. Toegegee, om dankie te sê verhoog die goeie gevoel.

Maar let op, die gedeelte in Lukas begin waar die Apostels vir Jesus versoek: leer vir ons geloof! Geloof kan nie wees dat ek daarop uit is om deur middel van my (vrywillige) diensbaarheid, lof en eer en aansien van mense verwag nie. Volwasse geloof fokus op Hóm wat in gehoorsaamheid die wil van die Vader uitgeleef het totdat Hy die laaste asem uitgeblaas het. Vir Hóm wat Homself opgeoffer het, het God die hoogste eer en majesteit gegee.

Maar dit was ná die opstanding (nie aan die begin van Jesus se aardse loopbaan nie). Jesus se Gees leer dat vervulling opgesluit lê in onbaatsugtige liefde en diensbaarheid. Dit geld vir almal – die skoonmaker sowel as die predikant, die tesourier en die weduwee wat in stilte haar hande vou. Die Vader wat in die verborgene sien, sal jou vergeld op sy manier en op sy tyd, en na ons aardse loopbaan die ewige heerlikheid. Terwyl ons binnekort weer op vergaderings medewerk(st)ers verkies, is dit goed om onsself daarin te oefen: ons loon is om te mag dien.