Dit blyk een van die bekende slagspreuke te wees wat uit die Hervorming gespruit het: die Skrif alleen, Christus alleen, die geloof alleen, die Genade alleen. Maar nee, hierdie een van Martin Luther sê: die Woord (nie die Skrif, die Bybel nie). Nou hoe so? Is daar dan ’n verskil? Inderdaad.
Met DIE WOORD sou Luther begin verduidelik, is dit soos met God se skeppende woord wat Hy aan die begin gesê het: Laat daar lig wees … en daar was lig! Deur middel van die uitspreek van ’n woord, het iets uit niks ontstaan. Só iets kan slegs God doen. Sy woord is sy daad; dit tree onmiddelik in werking en doen waarvoor dit gestuur is.
Soos aan die begin van die skepping spreek God vandag nog sy lewe-skeppende Woord in hierdie wêreld in: destyds deur Moses en die profete, beslissend deur Jesus Christus, en met outoriteit toegerus ook die dissipels en verdere dienaars van die Here deur alle eue heen. Spesifiek bedoel Luther met die Woord: die verkondiging van die regverdigmakende Christus, die Evangelie, wat tot heil en saligheid lei.
Omdat daar van baie soorte woorde gepraat word, het Luther ’n nuwe woord bevorder sodat ons dit van ander woorde kan onderskei. En dit is die woord promissio = die persoonlike toesê van die heil in Christus. Wanneer byvoorbeeld die dienaar van die Here vir iemand anders sê: “jou sondes is jou vergewe!” – dan is jou sondes vergewe! omrede God self in sy Woord teenwoordig werk. Daar is geen ruimte vir twyfel nie want die Woord , die promissio, sal uitvoer waarvoor dit uitgespreek is. Dit is dus nie opgrond van ’n sondaar se diepe berou, die offers wat gebring word of enige iets anders dat vergifnis kragtig in werking tree nie, maar omrede God self deur sy dienaars praat – daarom: alleen die Woord.
Uit Luther se geskrifte kan ons 6 kenmerke van die promissio saamvat:
- Dit is ’n uiterlike, menslike, gewone uitgesproke woord wat soos enige ander woorde gehoor kan word;
- Dit is ’n persoonlike aanspreek-vorm wat ’n innerlike effek het (in Duits: die Anrede)
- Dit is ’n openlike, openbare Woord vir almal bedoel (nie ’n geheime boodskap vir ’n binnegroep nie)
- Dit is duidelik en onmisverstaanbaar wat die heil en geloofssekerheid betref (nie misterieus ingewikkeld nie)
- Dit is ontvanger-geöriënteerd, dit wil mense bereik (sending)
- En wanneer dit in harte opgeneem is, wil dit groei tot geloofsvolwassenheid (maw dit maak aanspraak op die mens om verder te ontwikkel soos die saad wat ontkiem het, verder wil groei en baie vrugte voortbring)
Dit is hierdie soort ontdekkings wat ons in die Bybelstudie op Dinsdag-aande 19:00 in die Afr kapel verder bespreek. Vanselfsprekend duik die vraag op: nou wat is die verskil tussen alleen die Woord, en alleen die Skrif? En hier sal ons kortliks antwoord dat die Woord is die lewendige toesê van heilswoorde – dit sluit in die prediking, die Nagmaal, die bieg en waar ook al die heil dmv die uitgesproke woord hier-en-nou oorgedra word. Die Skrif of die Bybel is vanselfsprekend die bron waaruit ons dit ontdek het, maar ’n boek kan jou nie omhels of liefde gee nie; dit is Jesus wat deur mense jou omhels en liefde gee. Die twee, die promissio en die Skrif, moet van mekaar onderskei word, dit mag nie geskei word nie. Miskien mag ek ook die vergelyking trek na die mens as liggaam en gees – die mens is een geheel; en tog is ons instaat om liggaam (uiterlike vorm) en gees (innerlike persoon) van mekaar te onderskei. En dit is weens Luther se ontdekking van die verbo solo, dat hy ook kon sê: daarom alleen die Skrif.
Mag die kosbare Woord van God, die geskrewe Woord sowel as die lewendige verkondiging, vir ons behoue bly dat ons daarvan gebruik maak, dit ywerig bestudeer en gretig is om te hoor. Die Here is met ons.
Pastor Klaus-Eckart Damaske