Ek is die brood van die lewe

Toe sê die mense vir Jesus: Here, gee ons altyd hierdie brood.

En Hy sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie. (Johannes 6:34+35).

Angus Buchan is alombekend in SA – sommiges beskou hom as dié profeet van die Here; ander versmaai sy charismatiese aanslag. Ek self is nie een wat graag die vinger wys na ander, en ek sal ook nie vir jou voorskryf of jy op 22 April saam met ’n miljoen in Bloemfontein moet saamtrek, aldan nie. Angus het eers gepropageer: “Praying at home for your country, is no good. You have to come to Bloemfontein that we can pray together!” Maar het later darem hierdie opmerking versag: “It’s ok if you pray at home…” Ten spyte van alle kritiek, weet ons dat hy veral geharde en onverskillige sondaars met sy kenmerkende, diep-stem-kortwiek „Amen!“ uitroep aanspreek – mense wat ons kerklike tradisie omtrent nooit bereik nie. Ook van Billy Graeham se groot kruistogte / evangelisasie byeenkomste word gesê dat van almal wat hulle lewens aan Jesus „oorgegee“ het, omtrent net 5-10% hul‘ weg na ’n kerk en blywende geloof gevind het. Daarteenoor is ons tradisionele kerk tog so bietjie beter af met 30-50% van mense wat in langdurige en volwasse dissipelskap groei. Maar die massabyeenkomste, wondergenesings, duidelike oproepe bly indrukwekkend, is dit nie?

Jesus voed 5000 mans (dus sowat 10.000 mense) op een slag. Almal, vriend en vyand, bevestig dat dit ’n wonderwerk was soos deur geen toevallige natuurverskynsel, truuks of goëlaar verduidelik sou kon word. Jesus het definitief almal se aandag aangegryp; en as ons daaraan dink dat destyds omtrent 80% van mense se inkomste op voedsel en oorlewing gaan, was hierdie dié gesogde verlossingsmiddel teen daaglikse swoeg en sweet: Here, gee ons altyd hierdie brood!

„Ek is die brood van die lewe!“ antwoord Jesus op hulle gier. En dan merk ek net ‘n klein (groot!) verskilletjie op van Jesus se latere oproep. Hy sê nie: „Nou moet julle my aanvaar en in julle hart uitnooi.“nie, maar „Wie na my toe kom …“ en later „Wie my liggaam eet en my bloed drink bly in My en Ek in hom.“ Die verskil sien ek daarin dat by die oproep om Jesus te „aanvaar“ die klem lê op wat ék doen; dit is darem my bydrae wat ek tot die huwelik tussen my en Jesus kan lewer, is dit nie? Dis waar die oproep so maklik verkeerd opgeneem word en sal mense bly smag wat hulle uit Jesus kan uitkry: brood, genesing, bevryding, rykdom, gelukkige lewe, ens. Nee, die klem moet geheel en al lê op wat Gód gee, wat Jesus gedoen het, die opofferende liefde aan die kruis. En met die oproep om Hom te „eet“ wil Jesus tot volle identifikasie en dissipelskap oproep. As hulle Jesus se liggaam dan „gemaal“ het – soos ‘n mens koringkorrels stukkend maal om dit tot meel en brood te verwerk“, dan sal dit ook met Jesus se dissipels soortgelyk gaan: dissipelskap beteken om jou lewe te los, om geheel-en-al uit te lewer om die wil van die Vader te doen.

Om brood te eet, beteken om dit te verteer. Maar deur dat die brood homself opoffer, word nuwe lewe vrygestel. Wil Jesus dan nie sê: deur dat Hy Homself opgeoffer het, het nuwe lewe, opstandingslewe tot stand gekom!? Jy neem Hom op in elke erediens, elke Nagmaal, elke stiltetyd, elke gebed … elke keer kom Hy na jou toe en bied Homself aan as die ware, gevulde lewe wat nooit verby sal gaan nie.

Oom Angus se wonderwerke en spektakulêre massabyeenkomste sal verbygaan en die mense sal weer huistoe gaan – sommiges honger, ander op ‘n emosionele „high“ maar miskien ook enkeles wat deur die kolligte en luidsprekers, woorde van die lewe ontvang het. Ook my preke en werke sal eendag tot ’n einde kom, maar Jesus se Woorde en die vaste geloof in Hom sal nooit ophou nie. Dank God vir elke jaar se Wit Donderdag, Goeie Vrydag en seëvierende Opstandingsfees.

 

Ek wens almal ’n vrolike, outentiese opstandingsgeloof in die gemeente – waar geloof gelewe word!

Pastor Klaus-Eckart Damaske