God is self die grootste Sendeling en ons sy ewebeeld

Paulus, ’n apostel – nie op gesag van mense of deur ’n mens nie, maar wel deur Jesus Christus en God die Vader wat Hom uit die dode opgewek het – en van al die broers saam met my, aan die gemeentes van Galásië. Galasiërs 1:1-5 (Direkte Vertaling)

Hoe ek myself God voorstel – wie Hy is en wat Hy doen – dienooreenkomstig sal my persoonlikheid gevorm word. As God “liewe Kersfeesvader” is, sal ek vir Hom tyd maak as ek tyd het en van Hom allerhande geskenke verwag. As God die Allerhoogste, Almagtigste, Ewige God is, sal ek waarskynlik slegs in mistiese meditasie-oefeninge Hom kan bereik (as ek nog toenadering sou soek en nie heeltemal verskrik vêr van Hom af sou wou bly nie). Kom ons laat die gedagte bietjie staan.

Paulus beskou homself as APOSTEL. En ons is die “een heilige, algemene, APOSTOLIESE kerk”. Ek raak net aan drie punte van hierdie term.

Eerstens verwys ons na apostels as van die 12 eerste dissipels wat direk deur Jesus geroep is. Paulus sien homself in hierdie ry want alhoewel hy ‘n bietjie laat of „ontydig“ geroep is voor die poorte van Damaskus, was dit God se direkte roeping wat aan hom die outoriteit verleen om soos die ander apostels op te tree. Dit is dus ‘n sekere gesags-titel wat ons later in die kerkgeskiedenis nie meer vind nie.

Tweedens sê ons dat die gemeente van Jesus Christus gebaseer is op die leer van die apostels – daarom is ons ‘n apostoliese kerk. Daarmee bedoel die Bybel as die Woord van God soos veral die Nuwe Testament daarvan getuig hoe die nuwe volk van God tot stand gekom het.

Derdens moet ons aan die Griekse betekenis van die woord „apostelos“ dink wat beteken „gestuurde“. En hier is twee kante van dieselfde muntstuk belangrik:

  • God is die Een wat stuur; Hy maak Homself bekend deur die skepping; Hy roep Adam en Eva as ewebeeld en stuur hulle; Hy beroep Abraham en Moses en die volk Israel tot seën vir die hele wêreld; Hy het ‘n missie met sy profete van ouds, met alle konings en priesters; en Hy stuur Jesus Christus as Verlosser. Van die Vader en die Seun gaan die Heilige Gees uit wat die wedergeboorte gee en wat mense in alle waarheid sal roep, heilig en sal vervolmaak.
  • As dit dan God se eienskap en sy werk is – Hy stuur Homself en Hy stuur mense – dan sal dieselfde eienskap en werk ook neerslag vind in die kinders van God, nie waar nie?! Met ander woorde: die kerk van Christus is die gestuurde kerk, ‘n sendingkerk, ‘n gemeenskap in beweging, gedryf deur die Gees van God.

Ons is ‘n apostoliese kerk insover ons onsself as gestuurde sendingkerk sien. Ons bestaan nie vir selfbehoud nie maar God stort sy heil in die wêreld deur sy kerk, deur jou en my. Dit is die karakter van elke Christelike gemeente om God se karakter en eienskappe te laat weerspiël. Ons is wat God is, en ons doen wat Hy doen. Daarom bly die geestesgawe van apostolaat in Ef 4:11 behoue en wil ons dit ywerig beoefen.

Paulus skryf verder:  Genade vir julle en vrede van God die Vader en onse Here Jesus Christus, Hy wat Homself gegee het ter wille van ons sondes, sodat Hy ons kan red uit die huidige bose bedeling volgens die wil van onse God en Vader, aan wie die heerlikheid toekom in alle ewigheid! Amen.

Pastor Klaus-Eckart Damaske