Kersbome skitter en blink met liggies en behangsels op die dorpspleine van Duitse dorpe op Ou Kersaand omdat dit Duitsland is vanwaar die gewoonte gekom het om bome met liggies en ander behangsels te tooi. Voorkeur is verleen aan die denneboom. Volgens oorlewering het St. Boniface, ‘n Engelse priester in Duitsland, die gewoonte na Duitsland gebring of begin.
‘n Ander verhaal vertel weer dat Martin Luther die gebruik begin het in die sestiende eeu toe hy ‘n jong denneboompie versier het met brandende kerse om die hemelruim voor te stel vanwaar Christus gekom het. ‘n Skrywer in Strasburg het in 1605 berig dat inwoners van hierdie stad die gebruik gehad het om klein boompies in hulle voorkamers te plaas en te versier met appels, rose en lekkers.
Omdat Luther met hierdie gebruik verbind word, het dit hoofsaaklik oor die Protestante gedeeltes van Europa versprei. Die liedjie wat so bekend is aan ons almal “O Tannenbaum” gaan oor die denneboom wat die Duitsers as ‘n simbool van immergroen lojaliteit en ‘n nuwe lewe beskou – al is die tye ook hoe swaar en lyk die toekoms ook hoe donker.