Hoor jy hoe sag die klokke beier in eeue-oue taal

Met hierdie woorde lui die liedjieskrywer en sanger, Koos du Plessis (1945-1984), die tweede strofe van sy kers liedjie „Somerkersfees“ in. 

Hy verbind die “taal van die klokke” met die “ou verhaal” van Kersfees, wat “selfs die nagtelike swye vertel”.  In die derde strofe beskryf hy Kersfees as “die dag… toe Hy sy Seun aan ons gegee het – ons grootste Kersgeskenk.”

Kersfees is waarlik een van die grootste feeste in die kerkjaar – die dag waarop ons die menswording van die Seun van God herdenk en vier.  Maar wat het klokke of klokkies daarmee te doen?  Dit vorm nou wel deel van die versierings van die Kersfees-seisoen.  Ons vind dit op kersbome, geskenkpapier, kerskaartjies, en so meer. Maar waar kom hierdie gebruik vandaan, en wat beteken dit?

As ons die Bybel na verwysings na “klokke” deursoek, is daar nie veel te vinde nie. In Eksodus 28 en 39 vind ons ‘n beskrywing van die priester se klere. En daar staan dan onder andere: “Rondom die some moet jy granaatjies van blou, pers en bloedrooi wolstof maak met goue klokkies tussenin, afwisselend ’n goue klokkie en ’n granaatjie rondom die hele soom van die mantel.  Aäron moet dit dra as hy diens doen.  Wanneer hy in die heiligdom na My toe ingaan en as hy daarvandaan uitkom, sal die geluid van die klokkies gehoor word, en dan sal hy nie sterf nie.“ (Exodus 28:33-35 A83)  Wat die doel en betekenis van hierdie klokkies aan die soom van die priester se mantel is nie baie seker nie.  Die menings daaroor wissel.  Wat dit moeiliker maak, is dat daar ook in die Nuwe Testament geen verwysing na hierdie klokkies gemaak word nie.  En tog kan ons vashou dat dit hier te doen het met die PRIESTER se klere, met sy diens in die tempel, en met die bewaring van sy lewe.

En so kom ons dan baie vinnig uit by die getuienis van die Brief aan die Hebreërs, dat Christus die Ware Hoëpriester is, wie se diens daaruit bestaan, dat Hy sy eie lewe opgeoffer het sodat ons kan lewe.  Dit beteken, dat die gebruik van klokkies as versiering vir Kersfees, daarop wil dui waaroor Kersfees eintlik gaan en wie die Kind in die krip eintlik is.  Kersfees is nie maar net ‘n emosie-gevulde familiefees nie, en dit gaan nie net oor die blote menswording van die Seun van God nie.

Ons kan nie Kersfees vier, sonder om ook aan Goeie Vrydag en Paasfees te dink nie. Die Kind van Bethlehem  – soos reeds gesê – is dié Hoëpriester, wie se diens daarin bestaan het dat Hy sy eie lewe opgeoffer het sodat ons kan lewe.  Die gebeier van die Kers klokke wil dus die geboorte van ons Hoëpriester en Verlosser aankondig en ons daartoe oproep om Hom te aanbid.

En daarmee kom ons by ‘n verdere aspek wat ons moet bedink.  Die gebruik van klokke in verband met die eredienste van die Christelike Kerk, en veral met Kersfees, is ‘n ou tradisie wat volgens oorlewering begin is deur die Biskop Paulinus van Nola in Italië (354-431).  Die gebeier van die klokke was bedoel om die gelowiges nie net aan die verloop van tyd te herinner nie, maar veral ook om die gelowiges op te roep om na die huis van die Here te gaan en die Diens van die Here te ontvang: die verkondiging van sy Woord, die vergifnis van sondes en die ware lewe deur die Heilige Nagmaal.

Die klokkies is dus nie net fraai versierings nie, maar het ook ‘n belangrike boodskap te verkondig.

Mag die Here sy seën daartoe gee, dat die diens van die kers klokkies ook ons harte tref.

Pastor Kurt Böhmer