1 Kor. 13, 1 – 13, met opskrif: “Die uitnemendheid van die liefde” het op die Sondag Estomihi verlede jaar as teks vir die preek gedien. Die woord ‘liefde’, het 9 keer in die hoofstuk voorgekom. In die preek, gehou deur Pastor Jacob Corzine, het die woord ‘liefde’ ook etlike kere gefigureer.
Watter soort liefde was hier tersprake?
Om hierdie vraag te beantwoord het die literatuurverkenning die volgende opgelewer.
2. Die getal woorde in die Griekse taal vir ‘liefde’. Daar is vier hoofwoorde vir ‘liefde’.
2.1. Agápe, die mees algemene woord vir liefde in die Nuwe Testament, wat so 320 keer as ‘n werkwoord of selfstandige naamwoord verskyn.
2.2 Phileo (Philos, Philía) wat slegs 54 keer voorkom.
2.3 Éros, wat glad nie voorkom nie.
2.4 Storgé (stergo), wat ook nie voorkom nie.
Soek ‘n mens na definisies van hierdie begrippe, is dit nie so ‘n eenvoudige saak nie.
3. ‘n Omskrywing van die begrippe:
3.1 Agápe: Hierdie woord word in die Griekse literatuur gebruik om na iemand te verwys wat grootmoedig deur ‘n god begunstig is. Die gedagtegang hier is dat die god ‘n persoon sy alles
gee. So, in die Nuwe Testament word die woord aangewend as God al Sy liefde vir elkeen van ons gee. Agape word deur Christene gebruik om die onvoorwaardelike liefde van God vir Sy
kinders uit te druk. Dit is die mees self-opofferende liefde wat daar bestaan. Hierdie tipe liefde is wat op die kruis deur ons Heer en Heiland Jesus Christus geopenbaar is. In Johannes 3, vers 16, is geskryf: “Want so lief (suiwer agape!) Het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”
Agape liefde is die vrug van die Gees. (Gal.5,22) So lees ons: “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.”
3.2 Philia.: Terwyl agape volledige liefde benadruk, dui philia, wat meer emosioneel van aard is, op toegeneentheid, teerheid, broederlike liefde, die versotheid wat een persoon vir ‘n ander
het. Dit is nie so eenvoudig om tussen agape en philia te onderskei nie. Telkens moet daar na die konteks, waarin die woord voorkom, gekyk word.
In die volgende vers is dit duidelik watter liefde aan die orde van die dag is: “Laat die liefde ongeveins wees (agape), verafsku wat sleg is; hang die goeie aan; wees hartlik teenoor mekaar
met broederlike liefde (philia) die een moet die ander voorgaan in eerbetoning.” (Rom 12, 9 en 10) Maar dit is nie altyd so eenvoudig nie. Die volgende tabel help om die kontras tussen agape en philia beter te begryp:
Die liefde van Christus moet in ons deur God bewerkstellig word. Philia is ‘n wedersydse liefde, so bv. “Ek nooi jou vir ‘n braai uit, en jy nooi my weer uit.” Die blik is op die ander gevestig, verál op dit wat hy doen. Gevolglik, op een of ander tyd verflou dit. Maar, by Agape is ons blik op Christus gevestig en is rêrig ‘n selflose liefde. As ons ons blik op Christus vestig, het
hierdie liefde uithouvermoë, is duursaam en verdra alles.
3.3 Eros: Die woord verwys na die liefde wat tussen ‘n man en vrou bestaan, Dit behels meer as seksuele ekstase, want dit sluit ook, verlange na iemand en ‘n omgee vir iemand, in.
3.4 Storge: Dit beteken die liefde wat ouers vir hul kinders het. Ook, die liefde wat ‘n persoon vir sy troeteldier bv het.
4. Die vraag is gestel: Van watter tipe liefde is daar tersprake in 1 Kor 13? Antwoord.
Suiwer agape! Die woord liefde kon deur die woorde Jesus Christus vervang gewees het, want Jesus Christus is die personifikasie van die begrip agape. C H Dodd het dit pragtig
saamgevat toe hy geskryf het: “Paulus se beskrywing van die liefde in 1 Kor. 13… is ‘n portret waarvoor Christus self gesit het.” Agape liefde het sy volkome uitdrukking onder
mense gevind in Jesus Christus. In die verband skryf Paulus ook: “Wees dan navolgers van God soos geliefde kinders en wandel in liefde soos Christus ons ook liefgehad het
en Hom vir ons oorgegee as ‘n gawe en offer aan God tot ‘n lieflike geur.” (Ef. 5,1 en 2)
5.Tydens die skryf van hierdie artikel, het Valentynsdag, die 14 Februarie, aangebreek. Rooi harte, rooi kaarte, rooi blomme, rooi geskenke, rooi klere, rooi hartvormige lekkers
was aan die orde van die dag – alles so vol romantiek! Rooi, die kleur van liefde! Ons kan aanvaar dat baie geld die dag gewissel het in die naam van liefde, maar watter tipe
liefde?
Valentynsdag het geen bybelse basis nie. Die woordeboek praat van die herdenkingsdag van die onthoofding van die martelaar Valentyn deur die Romeine, etlike eeue na
Christus. Die Priester het Christene volgens die Romeine, onwettig in die huwelik bevestig – teen die wense van die Keiser Claudius. Terloops, daar word beweer dat etlike
Valentyne gedood is.
Ander beweer dat Geoffrey Chaucer, die outeur van “Canterbury Tales” die skepper van hierdie dag is. Hoe dit ook al sy, hierdie dag het gekom om te bly. Vraag is: Moet hierdie dag gevier word?
6. Die blomme/plante van liefde. Hier word na twee besondere blomme verwys, nl. Agapanthus, wat uit twee Griekse woorde – agape en anthes – bestaan, en as ‘n blom van liefde bekend staan. Die ander een is die plant van broederlike liefde, die philodendron. As ‘n mens die agapanthus blom – die stingel – neem en dit vertikaal hou, en ‘n stingel met ‘n hartvormige blad van ‘n philodendron plant neem en dit horisontaal teen die stingel hou, dan vorm dit ‘n kruis. Die agapanthus simboliseer ons vertikale verhouding met God, en die philodendron ons horisontale verhouding met ons medemens (broer). Dan weergalm die woorde van Christus, waar hy die skrifgeleerdes teregwys, in ons gedagtes: Die eerste van al die gebooie is: Hoor Israel, die Here, onse God, is ‘n enige Here; en jy moet jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele verstand en uit jou hele krag. (Agape) Dit is die eerste gebod. En die tweede hieraan gelyk, is dit. Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.(Philia) Daar is geen ander gebod groter as dié nie.
“As iemand sê: Ek het God lief – en sy broeder haat, is hy ‘n leuenaar; want wie sy broeder wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie? En hierdie gebod het ons van Hom dat hy wat God liefhet, ook sy broeder moet liefhê.” (1. Joh. 4, 20 en 21)