Kapelvernuwing 2019

Inleiding

Afrikaanse gemeentelede was deel van die Paulusgemeente sedert die gemeente gestig en die kerk gebou was. Afrikaanse eredienste is reeds gehou vanaf plus minus 1967.  Die klein getal Afrikaanssprekendes het egter nie ‘n aparte aanbiddingsplek of kerkgebou regverdig nie.

Die Paulusgemeente is bedien in beide tale (Duits en Afrikaans) deur een Pastor.  Die Afrikaanse gemeentelede het eers in April 1996 hul eie leraar gekry toe Pastor Klaus-Eckart Damaske as leraar bevestig is.  Pastor Damaske onthou daardie jare as volg(uittreksel):  Albei taalgroepe het destyds om die beurt vroeg- en laatdienste in dieselfde kerkgebou gehou met ’n ongemaklike kort pouse tussenin op ’n Sondag voormiddag.  Die kapel in die ou huis van die destydse “Präses” Ahlers is in 2007 in gebruik geneem nadat dit van die sinode gekoop is.  In 2012 is daar weer fees gevier met die heringebruikname van die nuwe kapel na vergrotings.

Onlangse Vernuwingswerk

Pastor Kurt Böhmer en sy gesin het by die Paulusgemeente aangesluit in Januarie 2018.  Die gemeente het gevoel dat die ongebruikte kamers van die huis waarin die kapel is, vernuwe behoort te word om plek te maak vir ‘n moederskamer, kategese lokaal en kombuis.  Daar is beplan, voorstelle gemaak en finansies gereël totdat die groen lig gegee is vroeg in Augustus 2019.

Die finale besluit was dat die grootste vertrek met sy mooi oorspronklike staalplafon as kategese lokaal ingerig moet word; die huidige konsistorie as kombuis en die groter badkamer as moederskamer.  ‘n Boukontrakteur is aangestel en daar is begin om storte uit te kap en te verf.  Die grootste deel van September 2019 is afgestaan aan die aanvanklike interne restourasiewerk.  Beskikbare fondse het nie toegelaat dat al die werk gedoen word wat die gemeente graag gedoen wou hê nie.  Nadat die boukontrakteur die perseel verlaat het, het die gemeente self ingespring en die mooi houtvloere se spykers dieper ingeslaan, geskuur en geseël en dit in hulle oorspronklike glorie herstel.  Daar is ook besluit om die staalhek voor die middelste voordeur met ‘n metaalplaat te vervang waarop onder andere kruise en die gemeente se naam verskyn.  Die tuin het volgende aan die beurt gekom en twee van die bome wat die aansig van die kapel verberg het, is uitgehaal.  Die plaveisel is ook herstel.

Met die werkdae by die kapel gedurende Oktober en November 2019 het oud en jonk fluks saamgewerk.  Die jongmanne het die klankstelsel in die nuwe moederskamer installeer wat natuurlik heelwat sweet op die plafon ingesluit het!  Die ouer jongmanne het om die beurt vloere geskuur en gesuig terwyl die dames gewas en gepoets het.  Ander gemeentelede het worsbroodjies gemaak en koeldrank aangedra, en so het elkeen wat daar was, sy deel gedoen.  Ons het nie net saam gesweet nie, maar span gebou en mooi herinneringe versamel.  Daar is steeds werk wat wag.  Gordyne moet nog gemaak word en laaste afrondingswerk moet gedoen word.  Ons vertrou op die Here vir verdere seën op die arbeid op sy akker.

Cynthia van Zyl