KYK, ONS GAAN NOU JERUSALEM TOE…

“Kyk, ons gaan nou Jerusalem toe. Daar sal die Seun van die mens aan die priesterhoofde en skrifgeleerdes oorgelewer word, en hulle sal Hom tot die dood veroordeel. Hulle sal Hom uitlewer aan die heidene, wat Hom sal bespot en gesel en kruisig. En op die derde dag sal Hy uit die dood opgewek word.” (Mat 20:18-19)

Liewe vriende in die Here Jesus Christus! Die sogenaamde Vastyd breek met Aswoensdag op die 6de Maart aan. Hierdie tyd word beoog om ‘n voorbereidingstyd te wees op Goeie Vrydag en Paasfees, wanneer ons die kruisiging, sterwe en opstanding van ons Here Jesus Christus ter wille van ons saligheid herdenk en vier. Ons kan net sowel sê, dat ons met Aswoensdag saam met Jesus sy reistog na Jerusalem aanpak. Ook hierdie reistog moet voorberei word. Daartoe dien die drie Sondae voor Aswoensdag, met die snaakse latynse name Septuagesimae, Sexagesimae en Quinquagesimae.

Die voorbereiding bestaan daarin, dat ons deur die skriflesings van die Sondae aan die drie „solas“ van die Reformasie herinner word: SOLA GRATIA (alleen uit genade); SOLO VERBO (alleen deur die Woord) en SOLA FIDE (alleen deur die geloof)

Septuagesimae is die “genade alleen“ Sondag. Die Evangelielesing oor die arbeiders in die wingerdboord verseker ons dat daar geen verskil is tussen dié, wat hulle hele lewe lank al Christene is en dié, wat net voor hulle afsterwe tot geloof in Jesus gekom het nie. Ons almal ontvang uit die hand van ons Here dieselfde „beloning“, die ewige lewe – uit genade alleen! Maar “genade alleen” beteken nie dat ons vry is om losbandig te lewe nie! Daarom, die skriflesing uit die sendbriewe, wat ons waarsku om ons liggame te dissiplineer.

Sexagesimae is die „Woord alleen“ Sondag. As daar ‘n verandering in ons lewenwyse moet wees, is dit alleen die Woord van God wat hierdie verandering kan teweegbring. Dit beteken daagliks die Woord van die Here  te lees en te hoor en, ja, ook om daaruit te lewe, en veral om weekliks saam met die gemeente om die Woord van God te vergader, waar ons met Christus verenig word en ons lewens daardeur kompleet verander word.

Quinquagesimae is die „geloof alleen“ Sondag, wat ons uitnooi om met oop oë te kyk na die barmhartigheid van God in Christus, Jesus ons Verlosser op sy lydenspad te volg en te sien hoe Hy Homself opoffer en so die die hele mensdom met ons Skepper versoen.

Die hele punt van die drie „Gesimae-Sondae“ is om ons voorteberei en ons gereed te maak vir die groot reis na Paasfees. Die Vastyd self herinner ons daaraan hoe dikwels ons nie uit die nuutheid van die lewe wat ons Here ons in en met die Doopwater gegee het, lewe nie. Dit roep ons op om terug te keer na die ware lewe, wat ons alleen deur ons Verlosser verkry.

Dus, waar jy ookal mag wees, bid ek dat jy ‘n geseënde en vreugdevolle Vastyd mag belewe! Mag die tyd wat jy met die Here Jesus in die komende weke deurbring, werklik vir jou hernuwing, vreugde en groei in die geloof aan Hom wat op Golgota se kruis vergifnis vir jou verwerf het en deur sy opstanding die oorwinning oor jou graf behaal het, beteken!

Pastor Kurt Böhmer