Leuse vir die jaar 2016 – Soos iemand wat deur sy moeder getroos word, so sal Ek julle troos. Jesaja 66:13
Die wind van voor; oë gesluit, klou net vas; ook Maria kyk meer na binne eerder as die toekoms tegemoet. Omhelsing, beskerming, liefde, en tog ook kleure van sand en droogte … op pad na Egipte.
Die woord uit Jes 66 praat van die terugkoms van Israel uit die ballingskap na Jerusalem. Wat moes die “verwerpte” volk nie alles deurmaak nie, maar nou sal hulle kan terugkeer. God praat op die liefdevolste manier denkbaar om sy beminde kind Israel na leed en droefheid weer te omhels.
Dr Moritz Fischer van die gemeente te Bruckberg, Duitsland verwys na die kunstenaar se omstandighede: soos enige gewone Palestyne soek Sliman Monsour geborgenheid in die staat Israel. Hy’s ’n Christen wat in Betlehem skool gegaan het en vir wie die omstandighede van Jesus se geboorte net-so vandag in sy lewe kon gebeur het.
Christene wêreldwyd bid, soek, vra en hoor die woord van God: Soos ’n moeder haar kind laat veilig voel, so laat Ek julle veilig voel. (in Hebreeus: sug van verligting, geborgenheid, versterk, in solidariteit wees, of te wel vertroos).
Hedendaagse koerantopskrifte mag soos „die wind van voor“ op ons werk. Ons voel met die slagoffers van Parys se aanvalle, maar ook wanneer vegvliegtuie troufeeste in Yemen of hospitale in Sirië bombardeer, of bote met desperate immigrante naby Europa omslaan; in ons eie land blyk plaasmoorde en geweld nie af te neem nie. Om nie eers van werkloosheid en massa-armoede te praat nie, net soos oorvol hospitale en oor hierdie feestydperk dink ek aan die eensaamheid en gesinsgeweld. Sal hulle hierdie wonderlike boodskap kan hoor? Wie sal dit vir hulle gee?
Vir eers gee God antwoord deurdat Hyself in Jesus Christus deelneem aan hierdie menslike ervaringe – ook Hy moes vlug, wind en sand trotseer, ontberinge en versoekings deurstaan. Dit is Hy wat ook dan vir sy dissipels leer om te bid: „Ons Vader, … verlos ons van die bose!“ Dit is egter ook Jesus wat die hemelse troos ervaar het deur die omhelsing van sy moeder Maria, die beskerming van Josef en later menigte-male deur die diens van engele. So leer Jesus dan ook vir die dissipels: „Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.“ (Lees gerus Joh 16:20-23)
In HOM vrede kan hê … nou reeds, vandag!
Inderdaad ’n paradoks: Vrede! – terwyl vegvliegtuie oor die koppe dreun en politici groot woorde slinger?
Ek klou aan God se woorde soos in die prent die kindjie aan die moeder wat in alle teerheid haar kroos ferm teen die hart druk. Is God die Vader, dan wys Hy ook sy moederlike kant – Hy’s selfs bereid om sy eie lewe op te offer.
Ons wens mekaar dat jy, Israel, sy stem sal hoor soos God jou tegemoet haas in die kind in die krip en die man aan die kruis. Sy woord is vir jou bedoel: Soos iemand wat deur sy moeder getroos word, so sal Ek julle troos.
Pastor Klaus-Eckart Damaske