Radio RSG eredienste en gedagtes

Wat ‘n voorreg om nog op hierdie manier aan omtrent 1.2 miljoen luisteraars die Evangelieboodskap van heil te bring. 17 Kort gedagtes en 2 eredienste is van ons klein gemeente oor die maand Julie oor Radio Sonder Grense uitgesaai.

Talle reaksies vanoor die hele land het per e-pos ingekom wat eintlik deurgaans positief was (anders as 3 jaar gelede waar sommiges ook kritiese of dogmatiese opmerkings gemaak het via slimfoon).

Mense vra dat ons asb meer op die lug gehoor sal word. Wel, die produsent, Flip Loods van Trippel M-produksie, lig my in dat hulle hul kwotas voorgeskryf kry – soveel van elke denominasie, kleur, geslag, ens. ’n Mens kan dus nie net vir diens aanmeld nie; waarskynlik sal ons so in twee jaar se tyd weer gevra word.

Vir die Paulusgemeente sê ons dank dat die leraar tyd mag maak; dis slegs spanwerk wat dit moontlik maak. En dis slegs deur in die samelewing betrokke te bly dat sulke geleenthede oor jou weg kom. Op 27 Augustus sal ons weer saam met 4 ander Lutherse kerke in Suid Afrika, ‘n openbare teken kan plaas wanneer ons by die skougronde (Tshwane Event Centre) die Joint Lutheran Service saam kan aanbied. Die Here se Woord wil in die openbaar gehoor word en ons as kerk wil dáár wees. Mag God die uitbreiding van sy Evangelie verder ryklik seën.

K-E. Damaske