Liewe Vriende,
die skoonheid van die skepping, met al sy fyn besonderhede, is ’n gawe van die skepper aan ons – ‘n geskenk wat ons kan geniet en bewonder, net soos selfs God sy behae daarin vind. Of ons nou verwonderd opkyk na die verre sterrestelsels, wat die naghemel versier, of met ‘n mikroskoop die delikate struktuur van ‘n skoenlapper bestudeer – dit alles is deur die Here, ons God, geskep soos ons dit uit die berig van Genesis ken. En ons doen goed daaraan om dit wat ons gegee is na die beste van ons vermoë te bewaar en te beskerm.
En tog weet ons dat hierdie skepping nie ewig sal bestaan nie. Die heerlikheid van die skepping is maar van korte duur en staar sy vernietiging in die gesig. Dit sien ons nie net in die besoedeling van die wêreld deur ons eie toedoen nie; dit is nie net ‘n konklusie van wetenskaplikes en sterrekundiges, wat voorspel dat ons son een of ander tyd sal ineenstort nie; nee, ons weet dit ook uit die aankondigings van die Woord van die Here soos in Jesaja 51:6 “Kyk op na die hemel, kyk na die aarde hier onder: die hemel sal soos rook verdwyn, die aarde sal word soos ou klere, en almal wat daarop woon, sal doodgaan soos muggies”.
Maar Jesaja kondig nie slegs die vernietiging van die skepping aan nie, so asof met die vernietiging van die skepping alles verby is en niks meer sal bestaan nie. Die Here kondig deur hom ook aan: “Die redding wat Ek bring, kom baie gou, die verlossing wat Ek bewerk, is op pad … die verlossing wat Ek bewerk, sal vir altyd wees, die redding wat Ek bring, sal altyd bly.” (Jesaja 51:5.6) Daar is dus ‘n toekoms ná die totale vernietiging. En die toekoms, die redding en verlossing waarvan ons hierbo lees het reeds begin: in die Here Jesus Christus, wie die Verlosser self is. Hy is die rede en die inhoud van die nuwe skepping en die nuwe wêreld. So sê Hy in Openbaring 21:5-6 “Kyk, Ek maak alles nuut… Dit het klaar gebeur. Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Aan elkeen wat dors het, sal Ek te drinke gee uit die fontein met die water van die lewe, verniet.”
Paulus skryf in sy tweede brief aan die Korintiërs oor die, wat glo, dat Christus hulle Verlosser is:
“Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.” (2 Kor. 5:17)
Dit beteken dat onsself deur ons Verlosser se dood en opstanding gered word uit die sonde en skuld wat die vernietiging van die hele skepping eers veroorsaak het – ons gesamentlike skuld as mense en ook ons heel persoonlike skuld wat ons deur ons eiesinnigheid en opstand teen God op ons gelaai het.
Maar hoe lyk die “altyd blywende” toekoms, wat die verlossing ons bring? Paulus is volgens sy brief aan die Romeine (8:18) oortuig daarvan, dat “die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie”. Hy praat van “‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly.” (2Co 4:17 A83)
Die mooiste beskrywing van die toekoms in heerlikheid vind ons in die Openbaring van Johannes:
Toe het ek ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gesien. Die eerste hemel en die eerste aarde het verdwyn, en die see het nie meer bestaan nie. En ek het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel uit sien afkom. Die stad was gereed soos ’n bruid wat vir haar man versier is.
Toe het ek ’n harde stem van die troon af hoor sê: «Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.» Toe sê Hy wat op die troon sit: «Kyk, Ek maak alles nuut.» En daarna sê Hy: «Skryf hierdie woorde op, want hulle is betroubaar en waar.» Verder sê Hy vir my: «Dit het klaar gebeur. Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Aan elkeen wat dors het, sal Ek te drinke gee uit die fontein met die water van die lewe, verniet. Elkeen wat die oorwinning behaal, sal dit alles kry, en Ek sal sy God wees, en hy sal my seun wees.” (Openbaring 21:1-7 )
Julle Pastor,
Kurt Böhmer