Sommige mense het nooit tyd nie. Hulle is altyd op pad êrens heen. Hulle is altyd onder tydsdruk. Hulle jaag inderhaas van die een afspraak na die ander.
Maar daar is ook mense wat baie tyd het. Dit lyk asof die tyd vir hulle ’n ander tempo het. Hulle het baie tyd – tyd wat stadig verbygaan en blykbaar nie wil verbygaan nie.
En tog hardloop die tyd getrou en onverpoos voort – altyd teen dieselfde tempo – onafhanklik daarvan hoe ons dit ondervind – soos die sand in ‘n uurglas: sandkorrel vir sandkorrel.
Die tyd beweeg aan. Ook as ons horlosies gaan staan, ken die tyd geen rus nie – en so vloei ons leeftyd soos ‘n stroom daarmee saam. Ons kan hierdie stroom nie stop of ophou nie: nie eers as ons die gelukkige oomblikke van die lewe wil vasvang nie.
Wie sou dit nie somtyds graag wil kan doen nie? En is dit nie net so nie: die mooiste ure is vlietend, die ongevulde, vervelige ure daarenteen blyk vir ewig geen einde te ken nie?
Maar ons het almal dieselfde hoeveelheid tyd, tyd om na te dink, tyd om te wag.
Ons kan die tyd nie versnel of vertraag nie. Ons kan die tyd gebruik of dit vermors. Ons het die vermoë om ons aan die tyd wat verby is te herinner. Ons kan die tyd wat voor ons lê indeel, afbaken, vir sekere programme reserveer. Tyd gee ons ruimte om te werk en te speel, iets te doen of nie te doen nie, dit gee ons die vryheid om op die een of op die ander manier op te tree. Maar die tyd wat kom, kan anders lyk as wat ons gehoop en dit beplan het.
Ons leef almal in die tyd en word daaraan blootgestel.
Waar kom die tyd vandaan? Waarheen gaan dit?
Ons ken nie die oorsprong of die uiteinde daarvan nie. Iets van die oorsprong en die einde kan mettertyd gevoel word. En daar tussenin leef ons. Vandag. Nou.
Is dit al? Geensins!
Want daar is iemand wat dit alles bymekaar hou: tyd en ewigheid. Hy gee aan elkeen van ons sy eie tyd.
Alles het sy tyd, so staan daar in Prediker 3: gebore word en sterf, plant en uitroei, afbreek en opbou, huil en lag, treur en dans, stil wees en praat.
Alles het sy tyd en elke mikpunt onder die hemel het sy uur.
God gee ons tyd as ’n kosbare geskenk. Maar Hy laat ons nie alleen met die tyd nie.
“My tye is in u hand” (Psalm 31:16), sê Dawid. Hierdie sin gee ons hoop. Die gejaagde, maar ook die wagtende en ewige tyd is in God se hande.
Die beeld is eenvoudig en alledaags, maar nogtans vertroostend en bemoedigend – die beeld van twee hande wat met groot deernis en omsigtigheid ‘n kosbaarheid beskermend omvou – die hande van ‘n moeder wat haar kind vertroos en liefde, ondersteuning en vreugde deur haar liefdevolle aanraking oordra.
Dit is veral wanneer dit voel of ons “hande afgekap” is, wanneer ons raadop en moedeloos, wanneer ons nie weet watter kant toe nie, dat ons na sulke vertroosting smag – na hande wat na ons toe uitreik, hande wat ons oprig, vashou en ons die versekering gee, dat ons nie alleen is nie.
God ken die kragtige, intieme verbinding wat met die aanraking van hande gemaak kan word. Jesaja roep die belofte van die Here aan die Israeliete in herinnering aan dat Hy hulle name in die palm van sy hand gegraveer het (Jesaja 49: 16a). Jesus se woorde in Johannes 10:28-29, “Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie. Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie.”
Watter groter troos is daar in ons haastige, besige, belaste lewe as om te weet dat God ons in sy hand hou? Hy het ons as Sy kinders belowe om in alle omstandighede vir ons ‘n plek van beskerming, veiligheid, vertroosting, liefde en vrede te wees. Hier in die hande van God is veiligheid vir tyd en ewigheid. God se hand is ’n goed beskermde plek, nie net vir onsself nie, maar ook vir al ons dae, al ons omstandighede, die dag waarin ons leef, die gebeure van ons lewens – dit alles is onder Sy beheer en in Sy hande. Hy lei ons nie net deur sy hand nie, maar Hy hou ons ook IN sy hand.
Maak nie saak hoe vandag daar uitsien of voel nie, ongeag jou bekommernisse of u vreugdes, God het belowe dat Hy jou en jou tyd in sy hand hou! Wat ’n lieflike troos is dit tog vir ons! Heerlik om te kan bely dat ons “tye” in God se hand is! Amen.
Pastor Kurt Böhmer