Verandering

Liewe Vriende in die Here Jesus Christus

Verandering is deel van die lewe. Die antieke griekse filosoof Herakleitos het hierdie waarneming met die beeld van water wat in ’n rivier afloop omskryf en so ver gegaan om te sê: „Alles vloei en niks bly nie“. Hy het gemeen, dat niemand ooit twee keer deur dieselfde water van ’n rivier kan loop nie. Vir hom was dit duidelik dat daar eintlik geen konstante in die lewe is nie, of te wel, dat verandering self alleen die konstante is.

Dit is sekerlik waar dat ons in ’n wêreld lewe wat daardeur gekenmerk is, dat dit groot veranderinge ondergaan. Die wêreld van vandag is nie meer dieselfe as vyftig jaar gelede nie. En as ons na die jonkste gebeure in die wêreld kyk, dan kom ons agter, dat enkele regerings die hele samelewing oor die hele wêreld kan beinvloed en dit moeilik is om die uitwerking van hulle besluite en optredes op ons eie lewens te verhinder. Dit mag so voorkom asof ons maar niks anders kan doen, as om maar net met die stroom saam te swem nie en die veranderinge te aanvaar.

Hoe anders praat die Here in sy Woord. So sê Hy deur die koning Salomo:

“Wat was, sal weer wees; wat gebeur het, sal weer gebeur. Daar is niks nuuts in hierdie wêreld nie” (Prediker 1:9)

“Wat is, was reeds. Wat kom, was ook alreeds. God laat weer gebeur wat vroeër gebeur het”

(Prediker 3:15)

Met die woorde van die bekennde Psalm 46 sing en bely ons:

“God is vir ons ’n toevlug en ’n beskerming; … Daarom is ons nie bang nie, al gee die aarde pad, al skuif die berge tot in die dieptes van die see, al druis en skuim die waters van die see, al skud die berge deur sy onstuimigheid. Oor die strome van die rivier is daar blydskap in die Godstad, in die heilige woning van die Allerhoogste. God is daar; die stad sal nie wankel nie. … Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde.”

En met Psalm 18:

“Die Here leef! Ek loof Hom wat my rots is. Ek prys my God wat my gered het.” (Psalm 18:47)

Ook as daar groot veranderinge oor ons losbreek, is en bly die Here God die standvastige rots, op wie ons kan vertrou. Hy word nie deur die veranderinge meegesleur nie. Hy is en bly altyd dieselfde.

“Die hemel en die aarde sal vergaan, maar U sal bly. Soos ’n kledingstuk verslyt, so sal alles vergaan, soos klere wat uitgedien raak, so sal U alles laat verdwyn. Maar U bly dieselfde, u jare het geen einde nie.” (Psalm 102:27)

En so kan ons ook vertrou op die beloftes van die Here, wat Hy in sy heilige Woord laat opskryf het. Die profeet Jesaja het alreeds getuig dat “Gras verdor en blomme verwelk, maar die woord van ons God bly vir ewig” (Jesaja 40:8). En ons Here Jesus Christus belowe in Matteus 24:35: “Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde nooit.”

Hoe kan ons die veranderinge van die lewe hanteer? Hoe moet ons daardie dinge hanteer wat in die toekoms gaan gebeur, die goeie sowel as die slegte? Om reg voorbereid te wees vir veranderinge wat in ons lewens oor ons mag kom of om dan die veranderinge reg te kan hanteer moet ons leer om nie op die veranderinge self te fokus nie, maar om te bou op dit wat altyd dieselfde sal bly en dit is die Here God self en sy Woord. Ons fokus op die beloftes van die Here, op sy betroubaarheid en standvastigheid. Ons laat ons deur sy Woord en die berigte daarin van die ervaringe wat mense soos die Psalmdigters met die Here gemaak het, lei.

Een ding staan soos ‘n paal bo water. Die Bybel sê vir ons oor en oor. Ons kan op God vertrou. Net by God vind ons rus, want by Hom is ons veilig. God is groot! God is magtig. God is tot alles in staat. Ons hoef nie te vrees nie. Ons vertroue is nie in ’n onbenullige godjie wat onvoldoende is nie en nie in staat is om ons te help nie; ons vertroue is in God wat in beheer is, wat standvastig en almagtig is. Solank ons op die Here vertrou, kan ons rustig wees. Vertroue op God bring vrede. Hy sál altyd daar wees en vir ons sorg. Hy is die konstante in die lewe.

Hartlike seënwense,  

Julle Pastor Kurt Böhmer