Liewe vriende in die Here Jesus Christus
Die seisoen van Advent is ‘n tyd vir terugkyk na Israel se verwagting van die Messias, én ook ‘n vooruit kyk na die wederkoms van Jesus Christus as ‘n triomftog oor die magte van sonde en dood, wat met die gebeure van Paassondag ‘n werklikheid geword het. Advent dra dus die betekenis van afwagting. Ons verlang na die wederkoms van die Seun. Ons hele lewe, word op die een of ander manier gespandeer in afwagting – gebeure van hoop, verwagting en onvoltooide verlossing. Waar ‘om te wag’ in ons gejaagde, moderne samelewing, wat geassosieer word met ‘n vermorsing, wil Advent ons leer om geduldig te wag op die Here.
Advent is nie net ‘n voorbereidingstyd op die “fees van herinnering” aan Christus se eerste koms nie, maar ook op die tweede. In die Adventstyd leef daar iets van die spanning dat Christus reeds gekom het, maar ook dat Hy weer sal kom. Advent is die tyd waartydens ons onsself opnuut inleef in die wonder van die menswording van Christus. Ons berei ons opnuut voor om die Verlosser in ons lewens te verwelkom. Ons leef ook in die verwagting dat die Verlosser weer gaan kom en daarom is ons gebed: maranata (kom tog gou, Here!). Ons viering hiervan staan, dus aan die een kant, in die teken van boetedoening oor ons sondes, omdat ons weet dat ons soos wat ons is, nie voor die Here kan bestaan nie, maar aan die ander kant ook in die teken van vreugde en afwagting, omdat ons weet dat die Messias alreeds as ons Verlosser gekom het en ons dus met ’n skoon gewete sy tweede koms tegemoet kan gaan.
Pastor Kurt Böhmer