Hierdie is my, Kätchen, se eie woorde oor my lewe op aarde
Ek, Käthe Magdalene van Rooyen (Kätchen) is gebore op 28 Mei 1922 in Potchefstroom. Ek was die oudste dogter van Rudolf en Käthe Johannes.
In 1923 trek ons na Standerton. Ek het een suster gehad, Irmela (gebore 1925). Toe ek 4 jaar oud was is my moeder in Februarie 1927 oorlede. Haar suster Trudie het daarna by ons kom woon om te help om ons kinders groot te maak. Na 3 jaar het Pappa se niggie, Mariechen Drewes, by ons kom woon om ons te help grootmaak. Sy het vir 11 jaar by ons gebly en ons dogters alles van huis hou geleer.
Omdat daar nie ‘n Duitse gemeente in die omtrek was nie, het ek eers in 1938 Belydenis afgelê in Ventersdorp by Sendeling Schnell, saam met my suster Irmela en sendeling Schnell se seun Christoph.
In 1940 is ek na die Universiteit van Pretoria, waar ek BA (HOD) gestudeer het. My eerste pos was in Standerton, by dieselfde skool as waar Pappa skool gehou het.
Ek het in 1947 begin Volkspele doen en in daardie jaar het die Britse koninklike familie Suid-Afrika besoek. Dit was Koning George VI en sy vrou en dogters, Prinses Elizabeth (die huidige Koningin Elizabeth II) en Prinses Margaret wat hier op besoek was. Die Standertonse stadsraad het ons Volkspelegroep gevra om tydens etenstyd van die besoek voor die koninklike gaste op te tree. By die Volkspele-oefening ter voorbereiding van die koninklike besoek het ek my man, Chris van Rooyen,‘n apteker, ontmoet. Hy was my Volkspelemaat.
In April 1951 is Chris en ek getroud in Standerton en ons het ons lewe saam begin in Virginia. Ons het daarna gewoon in Pretoria (tot Mei 1961), Windhoek (tot Desember 1966), Stellenbosch (tot Desember 1969), Bloemfontein (tot Mei 1975) en weer terug in Pretoria (in 1975). Ons 3 kinders, Christo (1960), Rudolf (1962) en Ingrid (1965) word gedurende hierdie tyd gebore.
In 1989 ondervind ek hartprobleme en ondergaan ‘n drievoudige hartomleiding. Die Sondag voor die operasie het ek na die erediens vir Dieter Reinstorf gevra om saam met my te bid, aangesien ek angstig was oor die groot operasie. Na die gebed was ek rustig gewees en het vas geglo dat die Liewe God my deur alles sou bystaan. Deur Sy genade was die operasie ‘n sukses en my gesondheid het daarna verbeter.
In 2003 besluit ons om ons huis te verkoop en na ‘n aftreeoord te trek. Alles was reeds gereël toe Chris skielik sterf en ek moes alleen daarheen trek, wat nie vir my maklik was nie.
Ingrid en haar man Stéphan het in 1998 na Amerika verhuis en ek het vanaf 2004 elke Kersfees op my eie vir 2 maande by hulle gaan kuier. Ek het saam met hulle baie gereis in Amerika en pragtige plekke besoek, waarvan ek as kind in die tydskrif “Die Hausfrau” gelees het, bv. die Grand Canyon, Yellowstone, Yosemite, Hawaii, ens. [Sien foto’s onder.] Einde November 2011 het Ingrid en Stéphan teruggetrek na Suid-Afrika.
In Desember 2011 is my seun, Christo, met breinkanker gediagnoseer. Dit was ‘n hartseertyd gewees om te sien hoe hy ly. Daar was egter dae gewees wat hy die mooiste goed ooit vir my kon sê. Ek het dit gesien as ‘besonderse pêrels’ wat ek bymekaargemaak het vir my ‘pêrelhalssnoer’ van hom. Die 16 maande wat hy siek was voordat hy gesterf het, het ons geleer om net altyd te bid ‘Laat U Wil geskied’. Dis nie maklik om dit altyd te bid nie, maar dit is al hoe mens deur moeilike tye kan kom.
My 90ste verjaarsdag in 2012 was ook nog ‘n hoogtepunt vir my gewees. Ek wou nog altyd graag Mauritius toe gaan. Ek het my 90ste verjaarsdag daar gevier en dit was wonderlik.
Sedert Maart 2014 woon ek by Stephan en Ingrid. Hulle is verantwoordelik vir my daaglikse versorging.
Ek is bly dat ek ‘n lid van hierdie gemeente is en die kerk getrou kan bywoon. Ek het die maandelikse „Seniorentreffen“ baie geniet. Ek het gedurende swaar tye baie liefde, troos en meegevoel ervaar, waarvoor ek baie dankbaar is. Ek het dit ook baie geniet om aan die gemeente-breiprojek deel te neem.
Die oggend van 28 Februarie 2020 het my lewe op aarde geëindig. Ek was 97 jaar en 9 maande.
[Ek het nou vrede en aanskou dit waaraan ek my lewe lank geglo het.]
Ek is nou by JESUS!!!!! HALLELUJA!!!!! AMEN
Sy laat Rudolf en Ingrid met hulle gades agter, asook kleinkinders en agterkleinkinders.