OORDENKING

“Waardig is die Lam wat geslag is, om die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof te ontvang.” Openbaring 5:12

Johannes het in ‘n visioen in die regterhand van Hom wat op die troon sit ‘n boekrol gesien, aan die binnekant en die buitekant vol geskryf, en met sewe seëls goed verseël. En hy het ‘n engel gesien, wat met ‘n harde stem uitroep: “Wie is waardig om die boekrol oop te maak en die seëls daarvan te breek?”

Die boodskap van die boekrol het te doen met die gebeure op aarde van die tyd van Christus se oorwinning en hemelvaart tot die einde van alle aardse dinge.

Maar niemand – nie in die hemel, en nie op aarde, en nie onder die aarde, was in staat om die boekrol oop te maak of daarin te kyk nie.  Daaroor het Johannes baie gehuil, omdat daar niemand gevind kon word wat waardig is om die boekrol oop te maak of daarin te kyk nie.  Toe sê een van die ouderlinge vir hom: “Hou op huil! Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die wortel van Dawid, het oorwin, sodat Hy die boekrol en die sewe seëls daarvan kan oopmaak.

Net die uitverkore Een van God, die Lam, kon die boodskap van die boekrol ontvang.  Dit beteken dat die hele bestemming van die menslike ras en haar geskiedenis onder die heerskappy en kontrole van Jesus Christus is.

Wat ‘n wonderlike vertroosting om te weet dat die hele bestemming van die mensdom onder die beheer van God is, onder sy oordeel en sy liefde.  Ons is nie weerloos uitgelewer aan bose magte en bose mense wat al hoe langer al hoe kwater optree nie, maar Christus is in beheer oor alles en altyd.

Johannes het toe tussen die troon en die vier lewende wesens, en tussen die vier-en-twintig ouderlinge, ‘n Lam, soos een wat geslag is, sien staan.  Die enigste Een wat waardig is om die boekrol met die sewe seëls oop te maak is die Lam van God wat geslag is vir die sondes van die wêreld.

Nou is die Lam nie meer aan sy vyande onderworpe nie, nie meer dood nie. Hy het lewendig uit die dood opgestaan en Hy staan langs God se troon.  Maar hy staan as `n Lam, wat geslag is.  Sy wonde is duidelik te siene.

Toe Johannes weer kyk, hoor hy die sang van baie engele rondom die troon, en van die lewende wesens en die ouderlinge. Daar was tienduisend maal tienduisende, duisend maal duisende, wat met harde stemme uitroep: “Waardig is die Lam wat geslag is, om die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof te ontvang.

Hierdie woorde van lofprysing word aan die Seun van God gegee omdat hy dit deur sy aardse lewe van vernedering, lyding en dood en deur sy triomfantlike opstanding uit die dood verdien het.

Ons is nie waardig om op ons eie voor God te verskyn nie. Maar die Lam maak ons waardig om voor God te verskyn, omdat sy bloed ons skoonwas van alle sondes. Dis die gawe wat deur geloof en die Heilige Doop aan ons oorgedra word.  Aan hom kom al die prys, lof en aanbidding toe.

Al die woorde van lofprysing word in dieselfde mate aan God sowel as aan die Lam gegee, behalwe die woorde “wysheid” en “rykdom”, wat slegs vir Jesus Christus voorbehou word.  Dit is slegs in Christus dat die menslike ras die rykdom van God se reddende genade ontvang en aanvaar, en dit is slegs in die Here Christus dat die wysheid van God ontvang en aanvaar word, veral die wysheid wat die menslike hart tot bekering en reddende geloof lei.  Daarom word “wysheid” en “rykdom” alleen aan Jesus Christus voorbehou omdat hulle nie deur ‘n “natuurlike kennis van God” ontvang kan word nie, maar slegs deur kennis en geloof in Jesus Christus.

Hierdie visioen van God se hemelse majesteit en die verheerliking en instelling van Jesus Christus aan God se regterhand versinnebeeld die eindresultaat van God se skepping en veral God se verlossings- en herstelwerk van die menslike ras deur sy Seun Jesus Christus.  Dit is waar die verhaal van God se openbaring aan die mensdom eindig: voor die hemelse troon, onder die heerskappy van Jesus Christus. Want die enigste doel van God se doen en late teenoor alle mense en sy skepping is dat almal op die ou einde God as die Skepper en Verlosser deur sy Seun sal prys.

Terwyl sy koningskap verdien was deur sy lyding en sterwe, sal dit ‘n koningskap en heerskappy in glorie wees.  Die kroon van dorings het plek gemaak vir die diadeem uit baie krone.  Die glorie van die kruis word nou duidelik gesien in verheerliking van Christus aan die regterhand van God in sy hemelse majesteit.  Die hemel treur nie meer nie, dit is vervang deur die fees wat geen einde het nie.

Die fees waaraan ons nou al deel het wanneer ons Erediens vier, wanneer ons lofgesange met die van die menigte kore in die hemel verenig word, wanneer ons in die heilige Nagmaal onder brood en wyn die Lam van God ontvang, wat sy liggaam vir ons in die dood gegee en sy bloed vergiet het tot vergifnis van sondes.

Ons Erediens en ons lofgesange is maar ‘n klein voorsmaak van die nimmer eindigende Erediens in die hemel.  Daar waar die menigte engele en heiliges rondom God se troon bely: “Waardig is die Lam wat geslag is, om die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof te ontvang.”

En saam met die vier lewende wesens rondom God se troon, sê ons: Amen! Dit is beslis waar.

Gebed: Here Jesus Christus, U is die Lam van God, wat geslag is. Ons loof en prys U in U verheerliking oor die hele skepping en vra dat U ons geloof sal versterk sodat ons oë altyd op U gerig bly, deur Wie ons vergewing en verlossing ontvang. Amen.

Julle Pastor Rüdiger Gevers