Maar Moses het vir die volk gesê: “Moenie bang wees nie! Staan stil en aanskou die verlossing van die HERE wat Hy vandag vir julle gaan bewerk.” (Eksodus 14,13; Direkte vertaling)
Uiteindelik het Farao die Israeliete uit hul gevangenskap in Egipte laat trek. Maar nie lank daarna nie bring hy weer ‘n strydmag van seshonderd uitgesoekte strydwaens asook al die ander strydwaens in Egipte byeen om die Israeliete te vervolg en terug te bring. Toe die Israeliete nog besig was om langs die see te kamp sien hulle die Egiptenare opruk.
Die Israeliete was vrees bevange. Agter hulle die Egiptiese strydmag wat dood en ellende bring en voor hulle die see waarin hulle kon verdrink. Dis te verstane as hulle by die Here om uitkoms pleit. Maar hul klaagliedere het nie vertroue in die Here bewys nie. Inteendeel hulle kla teenoor Moses: “Dit is immers vir ons beter om vir die Egiptenare te werk as om in die woestyn te sterf.”
Ja, partykeer lyk die moeilike verlede na ‘n beter opsie as die onsekere toekoms.
Moses sê toe vir die volk: “Moenie bang wees nie! Staan stil en aanskou die verlossing van die HERE wat Hy vandag vir julle gaan bewerk. (…) Die HERE self sal vir julle veg. Julle moet net stil bly.”
Ons staan ook dikwels vreesbevange voor dit wat die toekoms mag bring. Die verkiesing lê agter ons, ‘n nuwe regering gaan gevorm word, maar hoe die nuwe regering gaan vaar weet nugter alleen.
Sal dit ‘n beter toekoms bring vir ons land of sal dit nog meer ontwrigting veroorsaak? Of dalk is daar ander dinge wat jou kwel: Sal ek my werk behou? Sal ek weer gesond word? Is daar ‘n oplossings vir my persoonlike vraagstukke?
Hierdie vraagstukke en vrese is nie ongegrond nie. Maar ons maak dikwels dieselfde fout as die Israeliete destyds: Ons sien die gevaarligte flikker, ons sien potensiële struikelblokke en ons vergeet om ons oë op die Here te rig. Hy het dan belowe om ons, sy kinders, nooit te verlaat nie, maar in elke situasie by te staan.
Daarom: Moenie bang wees nie! Moenie dink dat jy die situasie alleen moet beredder nie; jy mag stil word en op die uitkoms van die Here wag. Moenie op jou sorge fokus nie, maar rig jou oë op die Here, Hy wat die hemel en die aarde gemaak het, Hy wat jou tot hiertoe deur alle gevare behoed en bewaar het, Hy wat sy eie Seun Jesus Christus vir jou in die dood gegee het, sodat jou sondeskuld weggeneem en vergewe is, Hy wat jou in die doop as sy eie kind aangeneem het.
Daarom: Wag op Hom, vertrou op Hom, en aanskou die verlossing wat Hy vir julle gaan bewerk. Dit mag nie altyd ‘n verlossing wees soos ons dit met ons beperkte insig voorstel of wens nie, maar Hy sal vir jou daar wees en jou nie in die steek laat nie.
En het ons dit nie die afgelope jare telkemale oor en oor beleef wanneer ons gedink het: Dit is uit, dit is verby! Daar was die Staatskaping, daar was die anargie met die plundering van die winkels, daar was Corona, daar was die ontwrigtende beurtkrag, daar is kriminaliteit en nou is daar vrae oor ons toekomstige regering. En nog altyd het die Here uitkoms gebring en nuwe moontlikhede geopen. Die Here se antwoord op al ons vrese en sorge is: “Moenie bang wees nie! Staan stil en aanskou die verlossing van die HERE wat Hy vandag vir julle gaan bewerk.”
As Jesus vir ons sê: “Alle dinge is moontlik vir iemand wat glo.” (Mk 9,24), mag ons dan antwoord: “Ek glo! Kom my ongeloof te hulp!” Amen.
Dankie Here dat ons onbevrees mag wees oor wat die toekoms vir ons inhou. Help ons om stil te wees, ons oë op U te rig en te vertrou dat U alle dinge ten goede laat meewerk vir díe wat U liefhet. Amen.
Julle Pastor Rüdiger Gevers