Oordenking

Een van die tegnologiese ontwikkelings waarsonder ek nie wil leef nie is die globale navigasie stelsel.  As mens soos ek, nuut is in ‘n groot stad soos Pretoria, sou ek hopeloos verlore wees en vir menigte huisbesoek te laat kom as dit nie was vir die navigasie stelsel nie.

So ’n navigasie stelsel is ’n wonderlike ding. As jy na ’n spesifieke plek moet gaan en nie presies weet hoe om daar uit te kom nie, voer jy jou bestemming op die skerm van die rekenaar van jou motor in, wat dan die roete vir jou bereken en jou met behulp van satelliete betroubaar na die verlangde bestemming bring.

By elke kruising en by elke afdraaipad waar die bestuurder ‘n rigting besluit moet neem, hoor mens die vriendelike stem: “In 100 meter asseblief links afdraai.” Of: “Verlaat die sirkel by die derde uitgang…”

Prakties kan mens nou nie meer verkeerd ry nie, jy bereik jou doelwit omdat jy gelei word.  Sonder probleme het my navigasie stelsel my tot dusver na al die hospitale in Pretoria gelei.  Ek was in die meeste gevalle nog nooit vantevore daar nie, maar danksy my roete rekenaar was die pad geen probleem nie.

Maar op pad terug wil die rekenaar mens partykeer op ‘n ander roete huis toe lei.  Ek wil egter die pad ry waarop ek vantevore gekom het: oor die snelweg en nie deur die voorstede met hulle kruisings nie.  En so vat ek my pad terug huis toe, wetende dat die rekenaar iets anders sê.  Dis ook nie lank nie of ‘n vriendelike stem oor die toestel sê: “Draai nou om asseblief!”  Maar as ek horende doof is luister ek nie na die waarskuwing nie en ry oor die snelweg.

Na ’n paar kilometer op die snelweg beland ek egter in ’n verkeersopeenhoping.  “Dis wonderlik!”, dink ek. “As ek maar net na die navigasie stelsel geluister het en die alternatiewe roetes gebruik het.”  Want wat ons dikwels vergeet, is dat die navigasie stelsel met behulp van satelliete verkeersopeenhopings reeds kilometers vooruit kan herken en omseil.  Maar ek wou mos my eie pad volg!

Hoe dikwels volg ons as mense ons eie paaie, met die goeie bedoeling dat ons weet wat die beste vir ons is.  Ons laat die Here, wat sin en oriëntering aan ons lewens gee, agterweë.  Ons weet mos van beter. Sonder God se navigasie stelsel vir ons lewe, beland ons egter vinnig in die doodloopstraat van verkeerde lewens keuses, in die eenrigtingstraat wat ons al hoe dieper in skuld en mislukkings inlei.  Ons kies verkeerde paaie en verdwaal in die lewe.

Ons vergeet van die Here, sy ontmoeting met ons in die Erediens word minder en minder, ons verloor kontak met ons broers en susters in die gemeente.  Ons volg die eenrigtingstraat van selfverwesenliking.

Draai nou om asseblief!” – ek het nog die woorde van die navigasie stelsel in my ore.

Draai nou om asseblief!” is ook ‘n dringende oproep van God aan ons, om ons lewens weer onder sy leiding in te rig. Leer my u pad, Here; ek wil in u waarheid leef.  Gee dat ek heelhartig vir u Naam ontsag sal hê.

As ons nie wil hê dat ons lewens in die doodloopstraat van verkeerde besluite moet eindig nie, dan moet die Here ons telkemale deur sy gebooie op sy pad terugroep.  Sodat ons lewens vooruitgaan en uiteindelik die doelwit van die ewige lewe bereik, moet God ons by díe Een bewaar wat self die pad na die doelwit is, by ons Here en Verlosser, Jesus Christus.

Leer my u pad, Here; of soos die navigasie stelsel dit stel: “Draai nou om asseblief!”  Die regte pad na die ewigheid lei jou keer op keer na die altaar van die Here.  Hier neem God jou skuld van jou af weg, hier word die koördinate van jou reis deur die lewe weer opnuut reggestel.  Hier gee Christus self vir jou padkos en plaas jou weer op sy pad.

Laat ons na God se stem luister: “Draai nou om asseblief!” Dan sal dit aan die einde van ons lewens ook sê, soos my navigasie stelsel na ‘n suksesvolle reis vir my sê: “U het u bestemming bereik!”

Amen.

Here, vergewe ons waar ons van u pad afgedwaal het, help ons om opnuut na u stem te luister en op die pad te bly wat na die ewige lewe toe lei, deur Jesus Christus, u geliefde Seun. Amen.

Julle Pastor Rüdiger Gevers