Hierdie is die kleinste, moeilikste maar mees dankbare lysie van iemand wat nog bietjie deurmekaar is in sy verstand.
Drie maande gelede is ons totaal onverwags deur 6 persone aangeval.
Ek het in my werkswinkel op die grond gesit en beskou hoe ek te werk moet gaan met die verandering wat ek beplan het op daardie stadium. Skielik was een “persoon” teen my en het begin om my been te sny met ‘n “angle grander”. Ek het hom gesien as ‘n groot persoon met goeie klere – en het hom begin vertel dat hy ook deur Jesus verlos is en dat wat hy nou doen nie reg is nie. Dit is basies, die laaste wat ek onthou vir die volgende 7 maande.
Blykbaar het ek geskree en Cynthia het uit haar werkswinkel langsaan gehardloop want sy het gedink ek het my beseer.
Die aanvallers het haar huis toe geneem en alles van waarde uit die huis bymekaargemaak – later het hulle haar oor die kop geslaan en deur haar “jean”aan die onderbeen gesny soos hulle met my gemaak het.
Ons God was die hele tyd by ons en het voorsien waar dit nodig was. Die aanvallers kon my baie maklik meer ernstig verwoes het. Cynthia beweer hulle het hout stukke geneem om my mee te slaan – orals, my kop, gesig, maag, bene ens. Hulle is deur God beheer om nie die menigte staal en gereedskap stukke te neem om my mee te slaan nie.
Vandag, presies drie maande, na die gebeure sit ek by die huis en kan ‘n PC gebruik. Ek is op die herstelpad. Cynthia is reeds baie beter maar die traumatiese herinneringe kom so nou en dan terug, wat enigeen kan verwag.
Die feit dat hierdie ding aan ons gedoen is, kan mens nie ontken nie. Die feit dat ons met “ons onsigbare plaas”, gedink het dat ons veilig is, moet ons nou heroorweeg.
Oor die 3 maande daarna, het ons laat terugdink en tot die besef gebring, van die massiewe hulp en genade wat ons ontvang het.
Ons wil graag dankie sê – maar dit kan so maklik hol klink – ons sal nie ten volle kan oordra van al die invloede wat ons gehad het nie – laat my ten minste probeer:
Ons Here Jesus, was by ons – Hy en Sy Vader het ons lewens bewaar – alhoewel die “mense” ons verwoes het, kon ons aanhou lewe, teen hierdie “mense” se sin.
Die feit dat my vrou, hierdie terroriste, weg kon lei van my af en my gered het van ‘n gewisse dood, is iets waarvoor ek nooit genoeg dankie sal kan sê nie.
Alex, my seun het my kom help en soveel moontlik probeer die bloeding stop.
Waarna hulp ontbied is, met ‘n gebrekkige mobiele konneksie.
Besoekers was baie – sommiges het gehelp om die helikopter op ‘n plek te laat land, waar hulle veilig was – die hospitaal waar ek heen gevat is, het omtrent 7 spesialiste ingespring en van kop tot bene laat regmaak. Aan hulle almal is ek baie dank verskuldig.
Tydens die hospitaal verblyf, was alles vir meeste van die tyd op sy plek. Waldemar, het ook in hierdie opsig baie gehelp.
Cynthia en Izak, het intussen ons maatskappy verder bedryf – kritiese werk en finansiële verslae perfek hanteer, sonder dat ek eers geweet het.
Ons geliefde Pastor en sy eggenoot, Kurt en Erika, was uiters betrokke by ons gesin, het ondersteun met gesprekke, gebede, versorging soos groot hoeveelhede geregte, vir die mense wat die res van die werk moes doen in die moeilike omstandighede. Ralf het sekerlik baie keer betrokke geraak met gesprekke en besoeke saam met die Pastor – ‘n hele paar.
Ons sê vir julle almal bitter baie dankie. Ons is totaal dankbaar vir al die gebede – van mense wat ons nie eers ken nie, van groot groepe van mense by verskillende gemeentes en van ellke persoon wat betrokke geraak het. Baie, Baie dankie. Dit word uiters waardeer. Alles het gehelp dat ons weer aan die gang is – ons hoop ons sal eendag vir julle ook soveel hulp kan lewer.