Ons begin stadig ons Diakonie na buite toe aan te sterk met ‘n paar nuwe projekte vir 2023.
Die fokus vir 2023 is om uit te reik na die gemeenskap in en om Pretoria, en nie net Arcadia nie. Dit sluit in haweloses, skole, ouetehuise, skuilings en selfs nie-winsgewende organisasies wat al klaar aan ‘n paar projekte werk. Hierdie projekte fokus dus meer op diakoniewerk buite die kerkgemeenskap.
Meals on Wheels – is ’n wêreldwye organisasie wat fokus op uiters spesifieke streeksvereistes. Elke voedingsprojek, -sone of -gebied kan ’n unieke voorkoms hê wat gebaseer is op die behoeftes van die gemeenskap wat hulle bedien.
Paulusgemeente het uitgereik na Tannie Sally, wat verantwoordelik is vir die noordelike en westelike streke van Pretoria. Hierdie voedingsprogram verskaf kospakkies aan meer as 450 gesinne met die hulp van die Meals on Wheels-program, die plaaslike gemeenskap, ’n paar diverse kerke en ’n paar vrygewige goeie mense.
Weens die erge ekonomiese afswaai is dit al hoe moeiliker om finansiering te bekom, en skenkings van plaaslike boere tot by Hartebeespoortdam word al hoe skaarser.
Plaaslike vrywilligers, insluitend Tannie Sally, gebruik dan hul karige pensioene om by te dra om die armes te voed.
Ons as gemeente gaan aan ’n verskeidenheid inisiatiewe deelneem. Ons gaan dit stelselmatig aanpak en werklik net een ding op ‘n slag begin.
- Finansieël – aangesien hulle minimale fondse tans het sal ons ‘n 2 maandelikse donasie gee om hulle weer op die been te kry en ook te help dat hulle 150 addisionele families kan bedien.
Elke Donderdag oggend kom 20-30 vrywilliges bymekaar om die voorafgekoopte groente, vrugte en ander donasies te verpak vir 450 families. Die pakkies verskil elke week – tans maar bietjie aan die min kant. Alles hang af van die weeklikse donasies. As Paulusgemeente het ons al twee oggende gesorg dat die helpende hande goeie ontbyt ontvang.
- Groot – nie-bederfbare projek vir wyke:
Ons sal ook bydra en deel wees van die projek om aan nie-bederfbare items te werk. Binne ons groter gemeenskap wil ons graag uitreik na elke afdeling om die volgende te begin insamel. Die projek self sal middel Maart afskop binne die wyke en ons sal goedjies soos lensies, sojabone, sop ens begin versamel. Julle sal meer oor die binnekort hoor. Die idee is om die konsep van moeggesukkel.com se pakkies aanmekaar te sit vir Meals on Wheels.
- Tuinmaak: ‘n projek wat ons in die winter sal aanpak saam met die Meals on Wheels spannetjie. Die agterwerf is taamlik groot en het al boorgat water. In die winter wil ons ‘n spannetjie bymekaar sit om die oop stuk grond te omskep in ‘n groente tuin. Net vir die basiese groente om die hele voedingskema ‘n bietjie van ‘n hupstoot te gee. En om hulle te bemagtig om self groente te kan oes.
Ons het jou hulp ook hier nodig. Of dit nou is om op ‘n weeklikse basis te kom help groente pak, geld gee vir die kospakkies, of kom help tuinmaak of meer… Daar is bitter baie geleentehede waar ons die Meals on Wheels skema kan help. Die doelwit is om nie net die 450 gesinne te voed nie maar om die aantal gesinne te vermeerder wat kospakkies ontvang en miskien selfs eendag ons eie voedingskema in Arcadia te begin. Vir meer informasie gesels met Natascha Heyman 0768468880