Wat is die tradisies in u gesin tydens die Paasnaweek?
Ons hele familie kom tydens die Paasnaweek by my ouerhuis bymekaar. Dis ‘n heerlike samesyn, want almal bly redelik ver uitmekaar uit. Goeie Vrydag gaan ons almal saam kerk toe. Daarna is dit terug plaas toe waar ons in die dam swem en vlugbal speel en net lekker saam verkeer. Sondagoggend vroeg is daar ‘n diens by die kerk se begraafplaas en dan die gewone Paasfees diens daarna. Na die diens braai ons as familie gewoonlik en hou ‘n paaseier skattejag.
Wat gebeur tydens Paasfees?
Wenzel: Jesus word gekruisig en het uit die dood opgestaan om ons te red sodat ons hemel toe kan gaan.
Ewert: Jesus is gekruisig. Daar was twee ander ook langs Jesus aan die kruis. Die een het gesê as Jesus die Koning is hoekom red Hy ons nie. En toe sê die ander man dat dit ons verdiende loon is dat ons aan die kruis is, Jesus verdien nie die kruis nie. En toe sê Jesus jy sal saam met my hemel toe gaan. Jesus was ook baie dors en toe het Hy vir water gevra en toe het hulle vir Hom ‘n sponsie aan ‘n stok gebring met asyn aan die sponsie en toe was Jesus nog dorser. Toe het Jesus doodgegaan. En toe het dit ewe skielik donker geword vir ‘n ruk en toe het dit weer lig geword. Hulle het toe ‘n spies in Sy sy gesteek om te kyk of Hy dood is. Hulle het vir Jesus in ‘n grot in die berg gesit en toe het hulle ‘n groot klip voor die ingang gerol. Daar was wagte by die klip. Toe het Maria die Sondagoggend gegaan om olie op Jesus te smeer. Toe sy daar kom is die groot klip weggerol en die wagte was weg. Toe het sy ‘n engel gesien. Die engel het vir haar gesê Jesus lewe. Jesus het ook by sy dissipels gaan kuier en vir hulle sy hande gewys sodat hulle Hom glo dat Hy opgestaan het. Jesus het vir hulle gesê: “Ek maak ‘n plek reg vir julle in die hemel.” En dis hoekom ons Paasfees vier, want Jesus maak vir ons ‘n plek reg in die hemel.
Ivanko: Dis toe Jesus op die kruis gesterf het. En toe het hulle Hom in daai ander grotterige ding gesit en toe word Hy weer lewendig en gaan weer God toe.
Avankia: Jesus was op die kruis gehang. Hy is toe dood. Hy het weer lewendig geword. Ons kan ook nou hemel toe gaan.
Waarvoor is jy werklik dankbaar:
Ons is dankbaar dat ons die voorreg het om op ‘n plaas te bly waar ons ruimte het om te kan rondbeweeg en die kinders kan speel waar dit veilig en gesond is. Ons is dankbaar dat ons naby aan die natuur kan leef en God se wonderlike skepping elke dag kan ervaar.
Geen Google toegelaat nie: weet u presies hoe Paasfees in ons kalender bepaal word?
Paasfees word gevier die eerste Sondag na die volmaan wat op of na die 21ste Maart val.
Het u ‘n gunsteling Paasgesang?
Jesus Christ is Risen Today. Er ist erstanden, Halleluja