DAMES-UITSTAPPIE NA LUDWIG SE ROOSPLAAS

DAMES-UITSTAPPIE NA LUDWIG SE ROOSPLAAS

“Some people grumble that roses have thorns; I am grateful that thorns have roses.”
Alphonse Karr, A Tour Round My Garden

Die Vroue van die Afrikaansegemeente  het op Saterdag 29 Oktober die dorings by Ludwigs Rose op die plaas Kloppersbos, naby Pyramid, gaan trotseer.

Die groep is met ‘n trekker en sleepwa op ‘n toer deur die kleurvolle lappe roosbome geneem. Rooi, geel, wit, pienk, pers en oranje blomme net waar jy kyk! Dit was werklik ‘n fees vir die oog. Ludwig het self saamgery en inligting gedeel oor die grootte van die kwekery, die besproeiing, variteite en roosgroei-geheimpies. So het die dames geleer dat steggies eers in die koelkas gesit word om te verseker dat dit sal groei en dat Kenia tans die grootste roos-produserende land ter wêreld is! Ook dat die meeste spesies inheems aan Asië is, met ’n paar uit Europa, Noord-Amerika en Noordwes-Afrika. Ons het gesien dat roosplante wissel in grootte: van kompakte miniatuurplante tot klimplante wat ‘n verbasende sewe meter hoog kan word. Volgens Ludwig kan hibriede tussen spesies maklik gekweek word en het hibriede  daarvoor gesorg dat daar vandag ’n enorme getal verskillende tuinrose is.

Na die toer was daar geleentheid om eetbare én nie-eetbare roosprodukte, asook ander aandenkings  te koop in die interessante winkeltjie. Roosparfuums, -olies, -lekkergoed en –marmelade is in die mooiste verpakkings uitgestal. Daar was ook lieflike vars snyrose te koop.

Maar, wat is ‘n roos as jy nie ‘n vriendin het om dit voor te gee nie? Die oggend is in die restaurant afgesluit met ‘n gesellige kuiertjie  oor ‘n koppie tee en ‘n bordjie koek. So tussen die kyk, ruik, voel en proe is die bande tussen die Susters-in-Christus hegter gesmee.

Baie dankie aan Antje en die Komitee vir die reëlings.

Carlien Hohls

DAMES-UITSTAPPIE NA LUDWIG SE ROOSPLAAS