Maar wat eers vir my ’n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ’n mens in Hom glo. ( Fil 3,7-9 ) 1983 vertaling.
As mens na Paulus se “getuigskrif” kyk dan het hy rede gehad om trots te wees. Hy is op die agste dag besny, presies soos die joodse wet vereis het. Hy was ‘n Israeliet van geboorte af; hy was seker van sy joodse herkoms uit die stam Benjamin; deur homself ‘n egte Hebreër te noem beklemtoon Paulus dat hy nooit net ‘n “naam-Jood” was nie. Benewens sy voortreflike Joodse herkoms was daar nog ander uitmuntende sake in sy CV, waarvoor hy self verantwoordelik was: Hy was ‘n Fariseër: Binne die Joodse godsdiens was dit as ‘n groot eer beskou. Hy was ‘n vervolger van die kerk: Die Jode het groot waardering vir sulke toewyding gehad. Hy het die wet onberispelik onderhou: Hy moes dus baie gedissiplineerd gewees het. As dit op sulke uiterlike dinge neerkom was sy “getuigskrif” bo verdenking. Maar hy wil uitkom by die groot MAAR:
MAAR wat eers vir hom ‘n trotse bate was, was skielik waardeloos. Hy gebruik selfs die woord “verwerplik”: alles waarop hy so trots was, was skielik net ‘n klomp “vullis”. Wat het gebeur? Hy verwys na sy ervaring op die Damaskuspad toe díe trotse Jood met die pragtige getuigskrif vir Christus ontmoet het, of liewer: Toe Christus hom ontmoet het en hy die wonder van genade ontdek het.
Met ‘n lang en moeisame pad het hy uiteindelik by die wonderlike waarheid uitgekom dat niks wat ‘n mens self kan bereik of presteer, naastenby opweeg teen dit wat God in Christus aan ons skenk nie.
Wie werklik God se genade in die ware sin van die woord gesmaak het, sal nooit weer trots kan wees op uiterlike dinge nie. Wie die grootste Waarde denkbaar ontmoet het, besef dat in vergelyking met Hom alles anders waardeloos is!
Op watter uiterlike bates is jy geneig om te vertrou: Rykdom, besittings, voorkoms, geleerdheid, ras, taalgroep, afkoms? Kan jy ook sê dat Christus jou waardevolste besitting is? Moet jy dalk ‘n kopskuif maak om soos Paulus al die ander bates prys te gee sodat jy Christus as enigste bate kan verkry?
Al hierdie legitieme seëninge van die Here is nie op sigself verkeerd nie, maar dis belangrik om te verstaan dat party van die dinge wat ons as ‘n bate of ‘n wins beskou in der waarheid vir ons ‘n verlies kan beteken omdat hulle in die pad staan om Christus te ken en te vertrou.
Selfs die heel beste menslike prestasies, selfs die beste CV is absoluut waardeloos as dit vergelyk word met dit wat God in Christus aan ons gee: Die vryspraak vir ons sonde; die voorreg om een met Christus te wees; die voorreg om deel te hê aan Christus se swaarkry en lyding en die voorreg om deel te hê aan sy opstanding. Omdat Christus uit die dood opgestaan het, sal ons ook uit die dood opstaan.
Here Jesus Christus, help ons om alle uiterlike bates as waardeloos te beskou in vergelyking met die grootste Waarde om U te ken en een met U te wees. Amen.
Julle Pastor Rüdiger Gevers