Vind Rus in Christus: ’n Uitnodiging tot Verligting en Vrede

“Kom na My toe, almal wat vermoeid en swaar belas is, en Ek sal julle rus gee.”

Wie is dit wat Jesus hier uitnooi om na Hom toe te kom? Hy nooi diegene uit wat onder die las van die wet van God gebuk gaan. Die wet sê vir ons wat ons moet doen en natuurlik ook wat ons nie mag doen nie.

Klink eenvoudig genoeg, maar ons sondige natuur wil nie gesê word wat om te doen nie. Die wet gebied ons om God lief te hê met al ons krag, met ons hele hart en siel, met ons hele verstand, en tog fokus ons verstand telkens weer op dit wat ons wil hê en wat ons gelukkig sal maak. Dit is ‘n konflik wat net nie verdwyn nie. ’n Mens kan nie God en die begeertes van jou sondige natuur dien nie. Die wet van God ken nie kompromieë nie. Die wet van God laat ons nooit alleen nie, dit vertel ons altyd, altyd wat om te doen, en wanneer om dit te doen, en hoe om dit te doen!

Jesus sê: „Kom na My toe, almal wat vermoeid is“ onder die wet. Christus het die wet vervul, en ons bevry van die veroordeling van die wet, en ons verlos van die slawerny van ons eie sondige begeertes wat teen die heilige wil van God in opstand kom.

Jesus sê: “Kom na My toe, almal wat … swaar belas is“ – swaar belaai met ’n groot las van skuld en skaamte oor die wet se oordeel op ons rug.

Die las van ons sonde is inderdaad besig om ons rûens te breek. Skuldgevoelens kan by die mees opregte mense in die wêreld spook. Dit kan by hulle spook, want selfs die bestes van ons, selfs die vriendelikste van ons dra sondes in ons rond waaroor ons ons moet skaam. Ons sondig daagliks. Ons koester bose gedagtes en begeertes, ons skinder graag oor die mense rondom ons, ons begeer wat nie aan ons behoort nie, ons word kwaad sonder oorsaak. Ons sondig teen mense en teen God. Hierdie las is te groot vir ons om te dra.

Jesus sê: “Kom na My toe almal wat vermoeid en swaar belas is.” Hy nooi ons uit omdat „die Here die ongeregtigheid van ons almal op Hom gelê“ het (Jesaja 53:6). Jesus het ons vrag van sonde en skuld en veroordeling en skande op sy eie skouers geneem. Hy het dit alles geneem. Daar is geen las wat te groot vir Hom was om te dra nie. Hy het dit gedra tot aan die kruis waar Hy die volle straf van goddelike geregtigheid verduur het – vir alle sonde! Jesus het al ons sondes weggeneem. “So ver as wat die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons” (Psalm 103:12).

“Kom na My toe”, sê Jesus toe. Hy omarm ons met al die liefde van God. Dit is hierdie liefde wat ons leer wat dit beteken dat Hy, die Seun van God, mens geword het – nie vir sy eie beswil en eer nie, maar om ons die voordeel van sy vergewende genade te laat toekom. Hy het gekom, nie om gedien te word nie, maar om te dien, en om sy lewe te gee as losprys vir die baie, baie verlore sondaars in hierdie wêreld (Mark 10:45). Die uitnodiging van ons Here gaan steeds voort uit sy Woord. Hy roep ons vandag nog en sê: “Kom na My toe … en Ek sal julle rus gee. … en julle sal rus vind vir julle siele.”

Wanneer probleme kom en beproewinge ons oorval, waarheen sal ons draai? Ons draai na Jesus toe, ons kom na Hom toe, ons weet dat ons deur hierdie genade toegang het tot die troon van God, en ons sal genade vind in tyd van nood. Die antwoord is daar by die Here. Kom na Jesus toe en julle sal rus vind vir julle siele. Hy alleen besit die sleutel tot die ewige lewe. Dit is daar vir almal wat deur die genadige roeping en krag van die Heilige Gees na Jesus toe kom, en in Hom vrede, hemelse saligheid en heerlikheid vind. AMEN.

Julle Pastor Kurt Böhmer