Genade Groter as Ons Gewete: Vind Vrede in God se Vergifnis

Liewe gemeentelede! Liewe vriende in Christus!

Die hart is die setel van ons emosies.  Ons sê: My hart is seer of my hart is bly.  Maar ons hart is ook die setel van ons gewete. Johannes praat in die tradisie van die Ou Testament nie van die gewete nie, maar wel van die hart as die plek waar ons onsself beoordeel en veroordeel. Ons eie hart kan ons veroordeel.  Dit gebeur bv. as dit ons ons sondes voorhou .  Dit terwyl daar geskrywe staan : «Iemand wat ‘n kind van God is, doen nie meer sonde nie.” (1. Joh 3,9) Ja, ons hart veroordeel ons, wanneer dit ons aan woorde, dade en gedagtes herinner, wat nie in ooreenstemming met God se wil is nie.

Maar wanneer ons hart ons veroordeel, dan is God groter as ons hart.  As ons hart ons veroordeel dan help dit nie om na onsself te kyk nie, onsself te probeer verdedig nie.  Ons skuldige gewete kom slegs tot rus wanneer ons op die Here fokus.  Ons saligheid berus nie op ons eie doen en late nie, maar dit berus in God se trou, in sy blywende voorspraak en versoening deur ons Here Jesus Christus. By Hom vind ons skuldige hart rus en vrede. Soos Johannes skryf: “As ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.” (1. Joh 1,9)

Teksvers: 1. Joh 3,20-22: Wanneer ons gewete (hart) ons veroordeel, God is groter as ons gewete en Hy weet alles. 21Geliefdes, as ons gewete ons nie veroordeel nie, kan ons met vrymoedigheid voor God staan. 22 En wat ons ook al vra, ontvang ons van Hom. Direkte Vertaling 2020

Ja, God weet alles. Hy ken die donker dieptes van ons hart en gewete.  Nogtans is sy genade groter as ons hart. Hy aanvaar ons soos die Pa die verlore Seun.

En as ons hart ons nie meer veroordeel nie, kan ons met vrymoedigheid voor God staan. Wat ons ook al vra, ontvang ons van Hom. (V. 22)

As ons hart deur die vergewing in Jesus Christus tot ruste gekom het, kan ons met vertroue tot God bid. Ons sondeskuld staan nie meer tussen ons en God nie.  Ons gebed vloei met ander woorde uit die versoening wat God in Christus vir ons bewerkstellig het.

So skryf Martin Luther in die Groot Kategismus: „Wanneer die hart van die mens voor God nie rein gereken word … sal die mens dit nie waag om te bid. So ‘n  vertroue en vrolike hart bekom die mens nie tensy hy weet dat sy sonde vergewe is. (Groot Kategismus III 92)

Dankie Here, dat U liefde en genade groter is as die hart wat ons veroordeel. Deur die vergewing in Jesus Christus mag ons vol vertroue tot U bid. Amen.

Julle Pastor Rüdiger Gevers