BASAAR @ DSP 2016

‘n Nuwe jaar, ‘n splinter nuwe basaar. Na die versoek aan die gemeente om die Basaar van 2016 by die Duitse Skool in Pretoria (DSP) te hou aanvaar is, was dit ‘n groot uitdaging om dit tot realiteit te laat kom.

Baie ure se beplanning en vergaderings het toe tog op die ou einde daarnatoe gelei dat als (of amper als) in plek (of redelik in plek) was vir die basaar. Maar laat ons nie vergeet dat dit nie ons beplanning, of ons vermoë is wat dit tot stand laat kom het nie! Ons Here en hemelse Vader het dit alles gegee. Of dit idees was, die energie om die werk te doen, die tyd beskikbaar te hê, of die ondersteuning op die dag van die basaar, dit alles kom uit Sy genade.

Dank en lof aan die Here, wie ook in die jaar uit genade die basaar laat plaasvind het, en wie dit met sukses geseën het. So hoe was die basaar by die DSP? Wat dink die basaarkomitee daarvan? Meer belangrik hoe het die gemeente die basaar @ DSP gevind? Die algehele indruk en terugvoer was dat dit ‘n goeie (tot selfs uitstekende) besluit was om die basaar by die DSP te hou. Was dit die duisend tot twee duisend mense wat ons graag daar sou wou gehad het…sekerlik nie, maar tog was daar duidelik meer “vreemde” mense daar as in vorige jare, en as ons daarop kan bou kan dit net beter gaan. Die perseel self was al klaar ‘n groot stap vorentoe.

Baie meer spasie, grotendeels onder dak, die groter saal, aansienlik meer parkering as wat ons (nog) nodig het, plaveisel (vir die keer as dit nat is)…definitief ‘n stap in die regte rigting. Die besluit om die jaar, soortgelyk aan die Christkindlmarkt, uitstallers te vra om hulle produkte aan te bied, om daardeur ‘n groter verskeidenheid aan produkte vir die besoekers aan te bied, het ook goed gewerk.

Nie al die uitstallers het baie verkoop nie, maar oor die algemeen was hulle terugvoer ook positief, en meeste van die wat gevra is het ook aangedui dat hulle weer sal kom uitstal. Hoe lyk die pad vorentoe? Goed. Dat daar nog baie is om te verbeter het ons die jaar gesien. Gedagtes vir volgende jaar, indien die basaar weer daar gehou word, is om die worsbraai, pannekoek en Kartoffelpuffer meer bloot te stel. Ons moet baie meer klem lê op advertensies om meer voete te kry. Ook aan die verskeidenheid vleis produkte wat aangebied word, sal ons oor moet besin.

Aan die gemeente wil ons as basaarkomitee sê, baie baie dankie. Die mosie om die basaar by die DSP te hou is van die begin af positief ondersteun, en ons kon weereens op julle staat maak om die dag ‘n sukses te maak. Sonder die gemeente se insette sou die dag nie kon gebeur nie. Aan die lede van die komitee en die ouderling oom Günter Niebuhr ‘n hartlike dank. Dit was ‘n groter uitdaging die jaar as in vorige jare, maar soos in vorige jare was dit ‘n goeie span poging wat tot ‘n goeie basaar gelei het.