“JULLE ONDERSOEK DIE SKRIFTE, OMDAT JULLE MEEN DAT JULLE DAARIN DIE EWIGE LEWE HET; EN DIT IS DIÉ WAT VAN MY GETUIG. “ JESUS, IN JOHANNES 5:39
Pokemon is die nuwe “buzz-word”. Dis ’n speletjie wat jy op jou slimfoon kan aflaai. Jou omgewing word soos ’n gewone GPS kaart gewys maar skielik wys klein wesentjies (soos op die prent) of monsters op die skerm wat jy moet “vang”. ’n Mens gaan na die spesifieke plek op jou skerm en versamel sodoende een monstertjie na die ander en klim so die leer van sukses.
Pocket-monster word deur reeds meer as 200 miljoen mense wêreldwyd “gejaag”. Net ingeval jy nie geweet het nie: jy gee toestemming aan die speletjie om al jou bewegings 24/7 te stoor. Dis nog erger as Facebook waar jy inwillig dat alle inligting wat jy oplaai, aan die firma Facebook behoort, en vir altyd gestoor mag word (al vee jy dit van die skerm af). Ook in kerklike tydskrifte maak Pokemon opspraak omdat mense skielik selfs by kerke ingaan op soek na monstertjies. Museums begin reeds toegang tot oppertuniste te weier maar by kerke heers die debat of hulle nie meer sulke speletjies vir hul’ jeug behoort te ontwikkel nie – omdat mense aan die beweeg is en vanself kom.
Vir my lê die fasinerende feit daarin dat mense op soek is – maar na wat? Na monsters? Wat maak dit saak as ek vlak 5 of vlak 15 bereik het? Nogtans put mense genot en opwinding daaruit. In ’n onlangse skoolopening het ek skoliere aangemoedig om inderdaad nie op te hou soek nie. Die lewe is ’n avontuur. Ja, maar die opwinding is hier-en-nou om jou; die mense is om jou. Maak jou oë oop vir die sonsopkoms, vir die wind en die plante, die diere en gebeure. Toegegee, die realiteit om ons is ook gevul met leed en droefheid, en jy kan nie afskakel teenoor die uitdagings wat teleurstellings of kriminaliteit meebring nie. Maar die opwinding kan nie in ’n virtuele, niks-seggende verbeeldingswêreld opgesluit wees nie.
Hou aan soek, ja. Maak erns met die vraag: wat soek ek werklik? Antwoord: jy is op soek na die lewe. Die Bybel sê nog meer spesifiek: jy’s op soek na God. Die strewe om iets te bereik en erkenning te kry (al is dit maar net deur ’n slim-foonprogram) wek die lus vir nog meer uitdagings. Terwyl pokemon as drogbeeld jou in die valse rigting stuur, sê Jesus duidelik: gaan soek die lewe, dáár waar dit te vinde is. Verbasend dat Jesus nie na die natuur of meditatiewe selfondersoek verwys nie, maar na ou geskrifte. Dáárdie verhale praat so duidelik van lewe en dood, van lief en leed, van teleurstelling en hoop, van oordeel en genade.
Dit praat van God se mense, dit praat van jou en my. Nog duideliker sê Jesus: die geskrifte getuig van MY – dié weg, die waarheid en die lewe! Glo jy dit? Wel, dan begin soek … en vind. Vergeet pokemon of ander elektroniese speletjies; doen iets opbouend vir jouself en vir ander. Die lewe is ’n avontuur. Hoeveel temeer met Hom wat die lewe self is: Jesus!