5 WOORDE VIR ALLE PAPPA’S VADERSDAG

5 WOORDE VIR ALLE PAPPA’S VADERSDAG – “Hoe ‘bekook’ jy ’n man?“ vra iemand, en antwoord: Baie goeie mans word verkeerd voorberei. Party kry die wind so van voor dat hulle soos ballonne opblaas, ander is voortdurend in die warm water.

Sommige mans is altyd in die pekel, terwyl ander verkil word. As jy soentjies en drukkies byvoeg, moet ‘n goeie hoeveelheid geheimsinnigheid en gesonde verstand ook bykom. Geur hom met nederigheid, besorgdheid en liefdevolle nabyheid – dan sal hulle sag en smaaklik wees.* Wel, dames, probeer jul’ bes om die mans “lekker” voor te berei soos julle hom wil geniet.

Maar wat kan die pa‘s doen om hul‘ kinders te geniet, om ‘n vaste fondament te lê, om bo die alledaagse uit te styg? Wel, jy kan ’n fondament lê vir jou kinders om eendag welvarend te wees, om ’n aansienlike beroepsloopbaan te volg, om ’n goeie ‘nes’ te bou en uiteindelik ’n pragtige huis te besit. Dis goed en wel maar miskien kort daar nog iets. „Wees versigtig waarop jy bou“, vermaan die Skrif. Hier is 5 wenke vir jong vaders (en waarom hulle jou op vadersdag behoort te bederf):

  1. Maak God die fondasie van jou eie lewe. Want niemand kan ’n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. (1 Kor 3:11) Of uit die OT Vrees vir die Here, is die begin van wysheid. Hoe kry jy wysheid? Laat die Woord van God ryklik in jou lewe wees. Leer saam met jou kinders en praat daagliks daaroor. As jou fondasie swak is, sal jou daaglikse lewe uitgelewer wees aan willekeurigheid en menings van ander, nie waar nie? As jy tuis net voor die TV neersak, jou eggenoot laat werk en die kinders verjaag … watse gevoel dra jy oor? Hoe sê James Baldwin: Kinders het nog nooit baie goed na hulle ouers geluister nie, maar hulle het nog nooit versuim om hulle na te boots nie.
  2. Onthou wat werklik saak maak.En wat sal dit wees? Die antwoord is maklik: die liefde! Die rede waarom ons dit egter vergeet, is omdat die wêreld nie hierdie waardes beloon nie. Geen pa kry ‘n medalje omdat hy met sy kinders gespeel het nie. Wie sal ‘n koerantonderhoud voer met ‘n man wat sy vrou eerste in sy lewe stel? Die firma sal manne beloon wat baie ure oortyd werk – dus, mans spandeer meer tyd by die werk, presteer en ontvang eer vir wat vir die firma belangrik is … en pa’s mis net so terloops uit op wat werklik saak maak. Besin gerus verder wat werklik vervulling gee.Een wenk gee Jesus tov kinders: Elkeen wat hierdie kindjie ontvang in my Naam, ontvang My; en elkeen wat My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het; want wie die kleinste onder julle almal is, hy sal groot wees. (Luk 9:48) Die mite is: om kinders te versorg, is mamma se besigheid. Nee, dis jou besigheid, dis Jesus se werk aan die kinders deur jou as pa. Kinders leer later om ook tov God te sê: dankie, Vader!
  3. Wees lief vir jou vrou! Nie verniet sê die gesegde: die beste wat jy vir jou kinders kan doen, is om vir jou eggenote lief te wees. Dit bedoel nie ‘n platoniese, diplomatiese, formele liefde nie, maar aksie, romanse, opoffering, ens. ’n Gelukkige huwelik spoel outomaties oor na die kinders wanneer hulle in ’n gemaklike, veilige atmosfeer kan gedy.
  4. Soek die regte vriende – vir jouself én vir jou klein kinders. In hierdie opsig praat ek nie van ‘n sendingsituasie nie waar ons opgeroep word om verhoudings te bou ook met mense wat nie vir God wil ken nie, maar by die opvoeding van jou kinders is dit belangrik om te weet watter invloed groepsdruk het. Kinders voed mekaar op. En ook in hierdie opsig geld 1 Kor 15:33 Moenie dwaal nie; slegte gesprekke bederf goeie sedes. Doen moeite dat jou kind by goeie maats uitkom. Later, nadat die fondament gelê is, sal hulle hul’ eie vriende kies; dan skuif jy as ouer in die agtergrond.
  5. Strewe na goeie waardes en doelstellings. Iemand het gesê: daar’s nie uitmuntende mense nie, maar daar is uitmuntende mikpunte. Om ’n toegewyde lewe te lewe, sal meer indruk op jou kind maak as vinger-wys-vermanings. Die doel waarvoor jy lewe, sal vir kinders leer dat daar groter dinge in die lewe is as jyself. Die doel sal jou vorm en trek – en die kinders voel dit aan. In hierdie opsig byvoorbeeld, sal jy as pa moet weet wat die Bybel bedoel met: Elkeen is geroep om in die Koninkryk van God in diensbaarheid teenoor God en jou naaste te lewe. Nie elkeen sal ’n voltydse beroep in die kerk kies nie, maar deur elke beroep sal jy jou naaste dien. Wat jy ook al doen, doen dit in die Naam van Jesus – dit is ’n roeping, ongeag watter beroep jy be-oefen.

Leer jou kinders om hulle roeping te identifiseer, hul’ eie karakter te leer ken en hoe om ten goede te verander. Makliker gesê as gedaan? Wel, met die tong in die kies: jy moet darem so bietjie werk om op vadersdag geloof te word, nie waar nie? Nee, Vaderskap is ’n wonderlike roeping waartoe God jou biologies, fisies, geestelik, emosioneel, sosiaal, ens instaat gestel het. Waar God gesonde gesinne bou, is daar gesonde gemeentes, word die samelewing genees. Mag ons leer om in die regte gesindheid te bid: Ons Vader wat in die hemel is … !* (uit „Hoe bekook jy ’n man“, skrywer onbekend).